God se goedheid lei tot goddelikheid
2024-08-05Romeine 2:4 NLV
Onthou jy die vrou wat ‘n albaste fles met aromatiese olies geneem en Jesus daarmee gesalf het? Die Bybel sê: “Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: ‘Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ‘n sondaar!'” (Lukas 7:39 NLV). Mensgemaakte godsdiens het hierdie vrou oor haar verlede veroordeel, maar Jesus het haar gereinig en weer heel gemaak. ‘Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, en daarom bewys sy My baie liefde. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!’ (vers 47 NLV). Jesus het geweet wat hierdie vrou gedoen het, maar Hy het ook geweet wat sy kan word wanneer sy genade haar lewe aanraak.
Hoe meer jy besef hoeveel jy vergewe is – letterlik al jou sondes – hoe liewer sal jy die Here hê. God se vergifnis lei nie tot ‘n sondige leefstyl nie, dit lei tot ‘n lewe wat die Here Jesus verheerlik. ‘…Besef jy nie dat God so goed is vir jou omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie?’ Die woord ‘inkeer’ beteken om om te draai en die teenoorgestelde te doen. Veroordeling bring nie ‘n regverdige lewe voort nie, maar die kennis van God se genade en goedheid teenoor ons wel.
Simon die Fariseër het gedink dat sy aanvaarding deur God op sy prestasie gebaseer was; daarom het hy eiegeregtig geword. Wanneer jy besef hoe baie en hoe gereeld God jou vergewe het, sal jy nog liewer word vir God en die begeerte ontvang om Hom in alles wat jy doen, te behaag.
Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Luk 11:1-13; Ps 78:40-55; Spr 20:4-6