2019-01-08
Romeine 4:18 NLV
Die tweede droomdoder is: Teleurstelling. Teleurstelling is die spasie wat tussen verwagting en realiteit bestaan. Jy het seker al hierdie spasie teëgekom. Jy moes al met onvervulde begeertes saamleef en jou hoop is al vernietig, wat jou kon beskadig het. Mark Twain het gesê, ‘Ons moet versigtig wees om net die wysheid uit ‘n ervaring te haal en dan te stop. Anders word ons soos die kat wat op ‘n warm plaat gaan sit het. Sy sal nooit weer op ‘n warm plaat gaan sit nie – en dit is goed so – maar sy sal ook nooit weer op ‘n koue plaat gaan sit nie.’ Wanneer iets verkeerd gaan, sê ons: ‘Wel, ek gaan dit nooit weer doen nie!’ Dis ‘n fout, veral as dit by jou drome kom! Mislukking is die prys wat jy betaal om sukses te bereik. Soms moet jy dit herhaaldelik oorkom om vorentoe te kan beweeg en jou droom na te jaag. Abraham was geroep om die vader van ‘n nasie te wees. Voor Isak egter gebore is, het hy ongeduldig geword en is Ismael gebore, wat ‘n slegte situasie geskep het waarmee hy sy hele lewe moes saamleef. Hy het egter nooit opgehou om in sy God-gegewe droom te glo nie. Die Bybel sê: ‘Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het’ (verse 20-21 NLV). Jy moet elke dag jou geloof versterk deur die Bybel te lees, te bid, aan God se goedheid te dink en jouself te herinner dat niks vir die Here te moelik is nie (sien Jeremia 32:17).
Sielskos: Jes 22-25; Luk 1:67-80; Ps 42:6-11; Spr 1:28-31
2019-01-03
Genesis 37:5 NLV
Die verhaal van Josef leer ons dat sukses kan veroorsaak dat ander mense jou sleg behandel. Nie almal sal jou sukses vier nie, insluitend sommige wat die naaste aan jou is. Toe Jesus bekend begin raak het, was die eerste mense wat Hom verwerp het, inwoners van die dorp waarin Hy grootgeword het. Dit het Hom genoop om te sê, ‘…n Profeet word oral gerespekteer behalwe in sy tuisdorp en in sy eie familiekring’ (Matteus 13:57 NLV). Die Bybel sê, ‘Al die broers was jaloers op Josef…’ (Genesis 37:11 DB). Wanneer God jou seën, sal party mense jou teiken. Sommige sal voel dat hulle dit meer verdien as jy en dat jy jou seëning ten koste van hulle ontvang het. Dis hoe Kaïn gevoel het toe hy sy broer, Abel, vermoor het. Dis hoe koning Saul gevoel het toe Dawid vir Goliat doodgemaak het en die mense gesing het, ‘…Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!’ (1 Samuel 29:5 NLV). Jaloesie is soos ‘n boemerang, dit keer terug om die een wat dit gegooi het, seer te maak. Toe hulle vader ‘n partytjie gehou het om die tuiskoms van sy verlore seun te vier, het die ouer broer gesê, ‘…Ek het al die jare hard gewerk vir Pa… En in al hierdie tyd het Pa my nie eers ‘n bokkie gegee om saam met my vriende fees te vier nie’ (Lukas 15:29 NLV). Hy het drie foute gemaak wat ons self dikwels maak: a) Hy het homself met sy broer vergelyk. b) Hy het sy broer se sondes en tekortkominge blootgestel. c) Hy het nie die liefde wat sy pa vir hom gehad het en die seëninge wat sy pa vir hom gegee het, waardeer nie. Leer dus uit sy foute.
Sielskos: Jes 4-7; Luk 1:11-25; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9
2018-12-08
Romeine 12:6 NLV
God het jou sekere verhoudings, vermoëns, ervarings en eienskappe gegee wat Hy wil hê jy moet gebruik om sy doelwitte te vervul. Hy het ‘n skoonheidskompetisie gebruik om Ester as koningin van Persië te posisioneer om die volksmoord van die Jode te keer. Hy het Nehemia se ywer as die koning se skinker gebruik om hom vir koninklike guns te posisioneer, wat tot die herbouing van die mure van Jerusalem gelei het. Hy het Dawid se musikale vermoëns gebruik om hom toegang tot die koning van Israel te gee. Hy het Josef se gevangenisskap en sy vermoë om drome te interpreteer gebruik om twee nasies van hongersnood te red. Hy het die ywer van ‘n massamoordenaar genaamd Saulus van Tarsus gebruik om die evangelie via drie sendingsreise te versprei, terwyl hy die helfte van die Nuwe Testament geskryf het. As God hulle gebruik het, sal Hy jou ook gebruik. Hy wíl jou gebruik. Hy ontwikkel talente binne in jou wat sy koninkryksdoelwitte op maniere waarvan jy op die oomblik onbewus is, sal dien. Dit mag dalk jou God-gegewe atletiese vermoëns of jou musikale talente wees wat God gebruik om jou ‘n platform te gee om Hom te eer. Dit mag dalk jou kreatiwiteit wees. Dit mag jou uniekheid wees. Dit kan jou goeie werksetiek wees. Maak nie saak wat dit is nie, dis ‘n gawe van God wat vir God gebruik moet word. Sukses beteken om jou beste te doen, met dit wat jy het, waar jy is. Dit is nie op omstandighede, rykdom, krag of verhoë gebaseer nie. Dis nie op ervarings in die verlede of toekomstige potensiaal gebaseer nie. Dis om diensbaar in elke geleentheid, op elke manier, elke dag te wees. Gebruik dus vandag wat God vir jou gegee het.
Sielskos: Gen 40-41; Joh 18:1-18; Ps 147:12-20; Pred 4:9-12
2018-11-28
Jesaja 41:10 NLV
Om sukses in die lewe te behaal, het jy twee dinge nodig: 1) Die regte mense. Soms is die eerste stap om uit moedeloosheid te kom, om iemand te vind wat jou daaruit kan lig. Moenie soos die ou wees wat op die punt was om by die brug af te spring toe ‘n polisieman hom genader het en gesê het, ‘Niks kan so erg wees nie. Vertel my daarvan.’ Toe die ou klaar gepraat het – het hulle altwee gespring! Jy mag dalk glimlag, maar die geselskap wat jy hou, kan jou of oplig of aftrek. Paulus het geskryf, ‘God, wat die vernederdes bystaan, het ons ook ondersteun deur die teenwoordigheid van Titus’ (2 Korintiërs 7:6 NLV). Jy het ‘n Titus in jou lewe nodig en jy moet ‘n Titus vir ander mense word. Die Bybel sê, ‘Help ander gelowiges wat swaarkry…’ (Galasiërs 6:2 NLV). 2) Die regte perspektief. Meer as die helfte van verkoopsmense misluk omdat hulle nie ‘n tweede of derde keer teruggaan nie. Omtrent 58 persent maak een oproep en stop dan. 25 persent maak twee oproepe en stop dan. Vyftien persent maak drie oproepe en stop dan. Die twaalf persent wat weer en weer teruggaan, maak 80 persent van alle verkope uit. Dis die groep waarin jy behoort. Moenie met mislukking tevrede wees nie; staan op en probeer weer! God sal saam met jou werk (sien Filippense 1:6). Weier om nederlae te aanvaar. Onthou, jy sal beloon word vir dit wat jy klaargemaak het, nie vir dit wat jy begin het nie. Soms is die laaste sleutel aan die ring die een wat die deur oopsluit, so vra dus vir God vir die krag om aan te hou totdat jy wen!
Sielskos: Gen 17-19; Joh 13:31-38; Ps 118:1-9; Spr 31:6-9
2018-11-20
Eksodus 18:23 NLV
Hoekom dring ons daarop aan om alles self te doen? Drie redes: 1) Ons is bang dat ander mense nie die werk so goed soos ons sal doen nie – maar hoe anders sal hulle leer? 2) Ons is bang dat hulle ons sal oorskadu. 3) Ons dink dat God van ons verwag om alles persoonlik te doen. Moses se skoonpa het vir hom gesê ‘Luister nou na goeie raad… Jy moet nog steeds namens die volk met die Here gaan praat… Vir die beslissing oor hulle verskille moet jy mans uit die volk aanstel wat as regters kan optree. Stel een man aan vir elke 1 000 mense of selfs vir elke 100 of 50 of tien mense… Stel hulle as voltydse regters oor die volk aan. Hulle kan die groter sake dan na jou verwys. Die kleiner sake kan hulle sommer self verhoor. So kan julle saam die vrag dra… As dit volgens God se wil is, kan jy die sake van nou af so hanteer. Dit sal jou werk maklik maak. Die volk sal terselfdertyd dan ook meer tevrede gestel kan word’ (Eksodus 18:19-23 NLV). Evalueer dus wat slegs jy kan doen en delegeer wat ander kan doen. As die taak te groot is vir jou, sien dit as ‘n teken dat God vir jou sê, ‘Moenie dit alleen probeer aanpak nie!’ Dit beteken nie dat jy die werk aan sommer net enigiemand kan gee nie. As jy die verkeerde persoon in ‘n werk, wat glad nie vir hulle sin maak nie, aanstel, sal dit rampspoedig wees. Jy moet: 1) die regte mense vind; 2) die regte werk vir hulle gee; 3) hulle vertrou om die regte ding te doen. As jy hierdie drie dinge doen, sal jy lank genoeg lewe om die vrugte van jou sukses te smaak.
Sielskos: Pred 5-8; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 30:11-14