Gebed kan groot dinge laat gebeur!

2022-04-22
Jakobus 5:16 NLV

Terwyl hy op vakansie in Engeland was, het D.L. Moody ‘n kerk in Londen besoek wat geestelik dood was. Die pastoor het hom herken en gevra om die oggend- en aanddiens waar te neem. Teësinnig het Moody ingestem. Na die oggenddiens het hy vir ‘n vriend vertel dat die gemeente so stug was dat hy skaars sy preek kon klaarmaak. Hy het gewens dat hy nooit sy vakansieplanne onderbreek het nie en het die heel middag opgesien na die aand se preek.

Agter die skerms, het iets egter gebeur waarvan Moody niks geweet het nie. Na die oggenddiens het ‘n bejaarde dame haar invalide suster vir middagete ontmoet en haar van Moody se opkomende aanddiens vertel. Haar suster het uitgeroep: ‘Ek bid al lank dat God vir Moody Engeland toe moet stuur! Sit weg die middagete, Sus. Ons sal die middag daaraan bestee om vir vanaand se erediens te vas en te bid.’

Toe Moody die preekstoel daardie aand bestyg, het ‘n ‘elektriese’ gevoel van God se teenwoordigheid die kerkruim gevul. Moody se preek was begeesterd en toe hy ‘n uitnodiging uitstuur vir mense om Christus te volg, het vyfhonderd mense gereageer. Hy het gedink hulle het hom dalk misverstaan, dus het Moody hulle gevra om weer te sit terwyl hy weer die evangelie verduidelik het. Maar toe hy ‘n tweede uitnodiging rig, het dieselfde vyfhonderd opgestaan om Christus te ontvang.

Wat het daartoe bygedra? Twee bejaarde dames wat besef het dat hulle kerk die vuur van God se Gees desperaat nodig gehad het. Hulle het God se belofte geglo: ‘…Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige werking.’ Jou gebede kan die vuur van God aansteek en groot dinge laat gebeur.

Sielskos: 1 Kor 12-14; Luk 24:50-53; Ps 103:1-12; Spr 10:13

Verstaan jou wilskrag

2022-04-12
Romeine 12:3 NLV

Ons het oordrewe idees van ons vermoëns. Ons hou daarvan om te dink dat ons alles kan doen. Dit maak egter nie saak hoe gedissiplineerd jy is of hoe hard jy probeer nie, as jy jouself nie nugter kan beoordeel nie, stel jy jouself vir mislukking oop.

John Ortberg sê: ‘Wilskrag is beperk. Jy het nie aparte voorraad in verskillende areas nie. Dis hoekom ‘n lang lys nuwejaarsvoornemens amper altyd in die hek duik. Dit neem baie wilskrag om ‘n oefenprogram om gewig te verloor, te begin. Voeg daarby die voorneme om geld te spaar, jou kantoor skoon te hou en elke week ‘n boek te lees en jy stel jouself vir mislukking oop. Die meeste van ons se wilskrag gee in voor ons liggame ingee.’

Ortberg stel die volgende voor: 1) Skeduleer jou belangrikste take vir wanneer jou wilskrag die sterkste is. Vir baie mense vind dit in die oggend plaas. Een studie wys dat gevangenes ‘n beter kans op parool het as hulle saak in die oggende aangehoor word, wanneer die regter ‘n hoër reserwe wilskrag het en meer geneig is om ‘n kans te neem.

2) Bestee jou wilskrag met wysheid deur nie te veel take op dieselfde tyd aan te pak nie.

3) Stel doelwitte – maar nie te veel nie. Wanneer ons te min doelwitte het, dobber ons rond, maar te veel doelwitte veroorsaak dat ons onsself oor hulle bekommer, minder bereik en fisies en emosioneel daaronder ly.

4) Onthou dat die een daad van jou wil wat wilskrag opvul eerder as uitput, oorgawe is. God het bedoel dat ons gebed, afsondering, lofprysing en meditasie op so ‘n manier moet doen, dat dit ons sal herstel.

Sielskos: Lev 20-21; Luk 23:1-7; Ps 25:16-22; Spr 10:3

Verslaaf daaraan om God se wil te doen

2022-02-20
Efesiërs 6:6 NLV

Die woord ‘slaaf’ het normaalweg ‘n negatiewe konnotasie, maar nie in hierdie Skrifgedeelte nie. Paulus gebruik die sterkste moontlike taal om ons te herinner dat ons veronderstel is om daaraan ‘verslaaf’ te wees om God se wil te doen. Jesus het mense so lief gehad dat Hy sou sterf om hulle te verlos, maar dit het Hom nie gekeer om nee te sê wanneer dit nodig was nie.

In plaas daarvan dat dit sy aandag afgelei het, het: 1) Jesus geweier dat ander mense se idee van wat belangrik is Hom van sy doelwit weerhou, 2) Jesus besef dat om God se wil te doen belangriker was as om aan almal anders se verwagtinge te voldoen, en 3) Jesus gebed en ononderbroke tyd met sy Vader sy hoogste prioriteit gemaak.

Was dit maklik? Nee, en dit sal ook nie vir jou maklik wees nie! Vroeg in sy bediening, toe gerugte van sy wonderwerke begin versprei het, het: ‘Die hele Kapernaum… by die deur saamgedrom om alles te sien. Jesus het baie siekes… gesond gemaak…’ (Markus 1:33-34 NLV). Die volgende oggend het daar nog ‘n skare op sy drumpel gewag!

Hoe Jesus hierdie keer daarop gereageer het, mag jou dalk verbaas. “Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid. Later het Simon en sy makkers agter Hom aangegaan en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: ‘Almal vra na U.’ Jesus het egter geantwoord: ‘Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het'” (verse 35-38 NLV). Jesus was verslaaf daaraan om God se wil te doen, en jy moet ook wees.

Sielskos: Ps 23; Joh 10:7-18

Gebed en meditasie oor die Skrif kan jou gesondheid verbeter

2022-02-09
1 Tessalonisense 5:17 NLV

Weg is die dae toe sommige teoloë voor die god van wetenskap gebuig het. Betroubare wetenskaplikes bevestig nou hoe vernuftig God is en hoe sy beginsels onder die deurdringende lig van wetenskaplike ondersoek, steeds van toepassing bly. Die neuro-wetenskaplike, dr Andrew Newberg, wat die verhouding tussen geestelike verskynsels en die brein bestudeer, het gevind dat ons ontwerp is om deur middel van gebed en die Skrif fisies en geestelik met God om te gaan. Dis ‘n alombekende feit dat daar dele in die menslike brein is wat positief op gebed, die lees van en meditasie oor God se Woord, lofprysing en empatie vir ander mense, reageer.

Dr Newberg glo ook dat die uitoefening van ‘n persoonlike godsdienstige geloof die kragtigste manier is om ‘n gesonde brein te handhaaf. Die brein se frontale lob word vir rasionele denke en besluitneming gebruik en om jou aandag te fokus. Dit reageer op gebed en meditasie deur te help om stres te verminder, ons immuunstelsel te versterk, ons geheue te verbeter en ons kapasiteit vir medelye te vergroot. Dit help ons om ouderdomsverwante breinverswakking af te weer en langer te leef! Newberg se navorsing dui aan dat om vir ten minste twaalf minute ‘n dag te bid, ouderdomsverwante agteruitgang van die brein kan vertraag.

Gebed en Bybelstudie deaktiveer ook areas in die brein wat met woede, skuldgevoelens, angs, depressie, vrees, wrokkigheid en pessimisme geassosieer word. Uiteindelik lyk dit of die een-en-twintigste eeu se wetenskap by die antieke Skrif aansluit en die Psalmdigter eggo: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar…’ (Psalm 139:14 NLV). Kan jy dink aan ‘n beter rede om die boodskap van Christus in sy volle rykdom in jou te laat bly? (Sien Kolossense 3:16).

Sielskos: Jes 17-21; Luk 9:1-17; Ps 134; Spr 4:5-13

Hoe om jou visie te ontdek (1)

2021-12-04
Jeremia 23:16 NLV

Jy kan nie God se doel vir jou lewe besluit nie, jy ontdek dit. Hoe doen jy dit? Deur gebed. God sê: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het…’ (Jeremia 29:11 NLV). Jou ouers mag dalk nie jou koms beplan het nie, maar God het. Jy mag dalk deur probleme oorweldig wees, maar God sien jou potensiaal raak.

Dawid se familie het nie gedink dat hy veel sou bereik nie. Waar hulle ‘n skaapwagter gesien het, het God egter ‘n koning gesien. Toe hy daarop terugkyk het, het Dawid geskryf: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!.. As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal U nog by my wees’ (Psalm 139:16-18 NLV).

Jy is uniek – en so ook God se plan vir jou. Dis bemoedigend om stories te lees en na groot presteerders te luister en te dink: ‘As hulle dit kan doen, kan ek ook!’ Die geheim is egter om by ander te leer, sonder om hulle te probeer na-aap. Dis nie genoeg om ‘n goeie idee te hê nie; dit moet ook die wil van God wees. Jy kan nie besluit wat jou visie moet wees nie; jy ontdek dit deur na God vir leiding te draai. Sy Woord sê dat Hy dit vir jou sal gee: “Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs'” (Jesaja 30:21 NLV). Dis hoe jy weet dit kom van die Here af!

Sielskos: Jos 19:24-21:45; Joh 16:12-18; Ps 2; Spr 28:25-28