Verslaaf daaraan om God se wil te doen

2022-02-20
Efesiërs 6:6 NLV

Die woord ‘slaaf’ het normaalweg ‘n negatiewe konnotasie, maar nie in hierdie Skrifgedeelte nie. Paulus gebruik die sterkste moontlike taal om ons te herinner dat ons veronderstel is om daaraan ‘verslaaf’ te wees om God se wil te doen. Jesus het mense so lief gehad dat Hy sou sterf om hulle te verlos, maar dit het Hom nie gekeer om nee te sê wanneer dit nodig was nie.

In plaas daarvan dat dit sy aandag afgelei het, het: 1) Jesus geweier dat ander mense se idee van wat belangrik is Hom van sy doelwit weerhou, 2) Jesus besef dat om God se wil te doen belangriker was as om aan almal anders se verwagtinge te voldoen, en 3) Jesus gebed en ononderbroke tyd met sy Vader sy hoogste prioriteit gemaak.

Was dit maklik? Nee, en dit sal ook nie vir jou maklik wees nie! Vroeg in sy bediening, toe gerugte van sy wonderwerke begin versprei het, het: ‘Die hele Kapernaum… by die deur saamgedrom om alles te sien. Jesus het baie siekes… gesond gemaak…’ (Markus 1:33-34 NLV). Die volgende oggend het daar nog ‘n skare op sy drumpel gewag!

Hoe Jesus hierdie keer daarop gereageer het, mag jou dalk verbaas. “Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid. Later het Simon en sy makkers agter Hom aangegaan en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: ‘Almal vra na U.’ Jesus het egter geantwoord: ‘Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het'” (verse 35-38 NLV). Jesus was verslaaf daaraan om God se wil te doen, en jy moet ook wees.

Sielskos: Ps 23; Joh 10:7-18