Verstaan jou wilskrag

2022-04-12
Romeine 12:3 NLV

Ons het oordrewe idees van ons vermoëns. Ons hou daarvan om te dink dat ons alles kan doen. Dit maak egter nie saak hoe gedissiplineerd jy is of hoe hard jy probeer nie, as jy jouself nie nugter kan beoordeel nie, stel jy jouself vir mislukking oop.

John Ortberg sê: ‘Wilskrag is beperk. Jy het nie aparte voorraad in verskillende areas nie. Dis hoekom ‘n lang lys nuwejaarsvoornemens amper altyd in die hek duik. Dit neem baie wilskrag om ‘n oefenprogram om gewig te verloor, te begin. Voeg daarby die voorneme om geld te spaar, jou kantoor skoon te hou en elke week ‘n boek te lees en jy stel jouself vir mislukking oop. Die meeste van ons se wilskrag gee in voor ons liggame ingee.’

Ortberg stel die volgende voor: 1) Skeduleer jou belangrikste take vir wanneer jou wilskrag die sterkste is. Vir baie mense vind dit in die oggend plaas. Een studie wys dat gevangenes ‘n beter kans op parool het as hulle saak in die oggende aangehoor word, wanneer die regter ‘n hoër reserwe wilskrag het en meer geneig is om ‘n kans te neem.

2) Bestee jou wilskrag met wysheid deur nie te veel take op dieselfde tyd aan te pak nie.

3) Stel doelwitte – maar nie te veel nie. Wanneer ons te min doelwitte het, dobber ons rond, maar te veel doelwitte veroorsaak dat ons onsself oor hulle bekommer, minder bereik en fisies en emosioneel daaronder ly.

4) Onthou dat die een daad van jou wil wat wilskrag opvul eerder as uitput, oorgawe is. God het bedoel dat ons gebed, afsondering, lofprysing en meditasie op so ‘n manier moet doen, dat dit ons sal herstel.

Sielskos: Lev 20-21; Luk 23:1-7; Ps 25:16-22; Spr 10:3