Seëvierende gebed

2026-03-20
Jeremia 29:13 NLV

In ‘n ou boek genaamd Prevailing Prayer, word John Wesley se gebedslewe só beskryf: ‘Gewoonlik en as ‘n reël het John Wesley se gewone gebed twee ure per dag in beslag geneem. Soms het hy sy vriende en familie bymekaar gemaak en die hele nag, of totdat die krag van God duidelik geword het, gebid. Niks is as te groot of te klein beskou om na die Here te bring nie. Een keer het John Wesley tydens sy preekbeurt so erg pyn gehad dat hy nie verder kon praat nie. ‘Ek weet wat die geneesmiddel is,’ het hy gesê en onmiddellik neergekniel. Binne oomblikke was die pyn weg.

Wesley het van hierdie oomblik waartydens hy so pyn en koors gehad het dat hy nie kon praat nie, gesê: ‘Ek het Jesus hardop aangeroep om my geloof te vermeerder. Terwyl ek gepraat het, het my pyn verdwyn, my koors het my verlaat en my liggaamlike krag het teruggekeer.’ Wesley het die wêreld met die vuur van sy ywer aangegryp, omdat hy die hemel met die vuur van sy gebede aangegryp het. Sy gebede het mense se gewete aangegryp, omdat dit hulle toegang tot God gegee het.’

Waarom het Wesley elke dag twee ure in gebed deurgebring?

1) Omdat hy gebed as ‘n krag wat hom reinig en korrigeer gesien het. In een van sy gebede het hy gesê: ‘Vul tog alles wat ontbreek, herstel wat in my verkeerd is en vervolmaak my innerlike wese.’

2) Omdat hy geweet het dat God se wil die enigste plan en doel is waaraan God verbind is. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister’ (1 Johannes 5:14 NLV).

Sielskos: Hos 1-5; Luk 19:22-40; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13

Maak gebed jou eerste prioriteit

2026-01-01
Johannes 16:24 NLV

Gebed moet jou eerste prioriteit wees. Hoekom? Want wanneer jy faal om te bid, stel jy jouself op om te misluk. Jy sê in wese: ‘Ek het nie God se hulp of insette nodig nie.’ Gebed maak die deur vir God oop en verwelkom Hom in jou situasie in. Jesus het gesê: ‘Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Hou aan bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volledig kan wees.’

‘n Onbekende digter het geskryf: ‘Ek het vroeg een oggend opgestaan en dadelik die dag in gejaag. Ek het soveel gehad om te bereik dat ek nie tyd gehad het om te bid nie. Probleme het oral om my getuimel, en elke taak het swaarder voor my gestaan. “Waarom help God my nie?” het ek gewonder. Hy het geantwoord: “Jy het nie gevra nie.” Ek wou vreugde en mooiheid sien, maar die dag was grys en somber. Ek het gewonder hoekom God my nie wys het nie. Hy het gesê: “Maar jy het nie gesoek nie.” Ek het probeer om in God se teenwoordigheid te kom; ek het al my sleutels by die slot gebruik. God het saggies en liefdevol berispe: “My kind, jy het nie geklop nie.” Ek het vanoggend vroeg wakker geword en gestop voordat ek die dag begin het. Ek het soveel gehad om te bereik dat ek tyd moes neem om te bid!’

Die Psalm het gesê: ‘O God, U is my God, ek soek na U’ (Psalm 63:1). Die eerste stem wat hy in die oggend wou hoor, was God s’n. Die eerste gesprek wat hy wou hê – was met die Here. Voordat ander eise aan sy tyd en energie gestel het, wou hy God se wil weet. Was jou gebedslewe al wisselvallig? Herrangskik dinge en maak dit jou eerste prioriteit elke dag. As jy dit doen, sal jy geestelik begin floreer.

Sielskos: Rom 13:12-142; 1 Kor 5:17; Ef 4:22-24

Stel gebedslokvalle

2025-06-09
2 Korintiërs 10:5 NLV

Wanneer ons die vers: ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ lees, is ons geneig om te dink dat ons sondige gedagtes gevange moet neem en hulle uit ons gedagtes moet kry. Dit ís wat ons moet doen. Ons moet egter ook kreatiewe gedagtes gevange neem en hulle in ons gedagtes hou. Hierdie vers beteken ook om elke woord, elke gedagte, elke indruk en elke openbaring wat deur God se Gees geïnspireer is, gevange te neem.

Een pastoor skryf: ‘Die Aramese woord vir ‘gebed’ beteken ‘om ‘n lokval te stel.’ Ons dink dikwels aan gebed as slegs woorde wat tot God gespreek word, maar miskien is dit meer as dit. Gebed is ook wanneer God met ons deur drome, begeertes, aansporings, indrukke en idees, praat. Gebed is die meganisme waardeur God se idees bedink en vasgelê word. Dit is ons kapasiteit vir gebed wat uiteindelik ons kreatiewe potensiaal sal bepaal. Een manier om gebedslokvalle te stel, is deur ‘n gebedsjoernaal te hou.’

Jou joernaal vang jou reis vas. Dit wys jou hoe ver jy gekom het en hoe ver jy nog moet gaan. Dit herinner jou aan God se genade toe jy gestruikel het en sy getrouheid wat jou na die regte pad teruggebring het. Wanneer jy ‘n gebedslokval stel, vang jy elke ervaring vas en wring die wysheid daaruit om beter en sterker te word. Jy moet ‘…my antwoord, die visioen, in groot duidelike letters…’ (Habakuk 2:2 NLV), neerskryf. Sommige van ons doen dit digitaal, ander weer met pen en papier. Wat egter saak maak, is dat jy opteken wat God in jou kop, in jou hart en in jou lewe doen.

Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Mark 13:12-23; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12

Gebed en jou “RAS”

2025-05-20
Jakobus 5:16 NLV

Om te verstaan hoe kragtig en effektief gebed is, moet ons vanuit ‘n neurologiese perspektief daarna kyk. By die basis van ons brein lê ‘n groep senuwees wat die retikulêre aktiveerstelsel (RAS) genoem word, wat ons omgewing monitor. Ons word voortdurend met ontelbare stimuli wat meeding om ons aandag, gebombardeer en dit is die RAS se taak om te bepaal wat raakgesien word en wat ongemerk bly.

Jy laai byvoorbeeld ‘n nuwe luitoon vir jou selfoon af. Jy is seker dat jy dit nog nooit vantevore gehoor het nie. Nadat jy dit egter afgelaai het, lyk dit asof almal dieselfde luitoon het. Dis nie omdat baie mense die luitoon na jou gaan aflaai het nie. Dit is die eenvoudige feit dat toe jy daardie luitoon afgelaai het, dit ‘n kategorie in jou RAS geskep het. Daardie luitoon het onopgemerk by jou verbygegaan voordat jy dit afgelaai het, want dit was nie vir jou belangrik nie. Sodra jy die luitoon afgelaai het, het die RAS dit as relevant erken. Gebed werk op dieselfde manier.

Wanneer jy vir iets of iemand bid, skep dit ‘n kategorie in jou retikulêre aktiveerstelsel. Nou merk jy alles wat relevant aan daardie gebed is, op. ‘n Pastoor skryf: ‘Het jy al ooit opgelet dat toevallighede gebeur wanneer jy bid? Dit is meer as net toeval, dit is voorsienigheid. Gebed skep goddelike geleenthede. Gebed heilig egter ook die retikulêre aktiveerstelsel en stel ons in staat om die geleenthede wat God beskik het en wat heeltyd oral om ons is, raak te sien. Sodra ons hierdie geleenthede sien, moet ons ons geloof aktiveer en hulle aangryp.’ Gebed is die portaal na God se koninkryk en waardeur sy seëninge na ons toe vloei. Bid dus elke dag.

Sielskos: 1 Kon 10-11; Mark 8:27-38; Ps 45; Spr 12:7-9

Aanbidding: gee jouself aan God

2025-03-23
Hebreërs 10:2 AFR20

Om ‘n aanbidder in die volste sin van die woord te word, verg twee dinge. Eerstens, die begrip dat God se liefde vir jou nie van jou liefde vir Hom afhang nie. Die oomblik wanneer jy Christus as jou Verlosser aanneem, aanvaar God jou en klee Hy jou in die geregtigheid van Christus; daarom is jy altyd waardig om tot Hom te nader.

Tweedens, om te verstaan dat God se liefde vir jou nie bloot ‘n teologiese konsep is nie, maar iets wat met jou hart omhels word en waarop jou emosies reageer. Wanneer jy aanbid, laat jy jouself gaan en gee jy jouself sonder voorbehoud aan Hom oor. ‘…omdat die aanbidders, nadat hulle een maal gereinig is, nie meer enige besef van sonde sou hê nie…’

Wanneer jy glo dat die bloed van Jesus jou van alle sonde – verlede, hede en toekoms – gereinig het, word jy ‘n aanbidder wat in vervoering oor sy liefde is. Sondige patrone word verander en hardnekkige gewoontes word verbreek, wanneer jy jou oë van jouself afhaal en op Christus fokus. Paulus skryf: ‘…Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak terwyl julle saam psalms en lofgesange en geestelike liedere sing. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here’ (Efesiërs 5:18-19 NLV).

Die psalmdigter Dawid skryf: ‘Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!’ (Psalm 34:9 AFR53). Verbeel jouself dat jy by jou gunsteling maaltyd aansit, dat jy elke happie proe en daaraan smul. So moet jy die liefde van God benader. Die waarheid van God se liefde vir jou moet nie net in jou gedagtes bly nie; dit moet deur jou hart ervaar word. Wanneer dit gebeur, aanbid jy God werklik.

Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3; 2 Kor 9:1-15