Stresplakkers

2022-07-17
Jesaja 26:3 NLV

Het jy al ooit van stresplakkers gehoor? Dit is klein plakkers, wat jy in jou hand plaas, wat sensitief vir druk is. Soos adrenalien deur jou liggaam vloei, verander hierdie plakkers van kleur en bewys dat jy gestres is. Sou dit nie wonderlik gewees het as ons ‘n klein innerlike waarskuwingslig gehad het wat flikker elke keer wanneer ons ons fokus van die Here afneem nie? Of as ons ‘n klein alarm gehad het wat kon lui wanneer ons nie meer in pas met God is nie?

Ons het dit! Dit staan as spanning of stres bekend. Wanneer jy gespanne voel, is dit ‘n aanduiding dat jy jou oë van die Here afgehaal het en dit op jou omstandighede gefokus het. Ons staar na die probleem, eerder as na die oplossing. Wanneer ons dit doen, raak ons gespanne. As jy mooi daaroor dink, kan stres God se manier wees om te sê: ‘Verander jou fokus. Kyk na My.’

Die Bybel sê: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’ Jy het die keuse om op jou probleme te fokus, of om op die Een wat die oplossing het, te fokus. Corrie ten Boom het geskryf: ‘The blacker the night around us grew, the brighter and truer and more beautiful burned the word of God. If you look at the world, you’ll be distressed. If you look within, you’ll be depressed. But if you look at God, you’ll be at rest.’

Jou vrede word deur dit waarop jy konsentreer, bepaal. Wanneer moeilikheid dus te voorskyn kom, fokus op God se teenwoordigheid; Hy is by jou en Hy het beloof dat Hy jou nooit sal verlaat nie (sien Hebreërs 13:5).

Sielskos: Gen 5:22-24; Heb 11:5; 2 Kon 2:1-12; Hand 1:9-11