Steun op God se teenwoordigheid en sy mense
2021-01-26Handelinge 17:27 NLV
Die Bybel sê dat God nie ver van enigeen van ons af is nie. Van die massas in die stad se strate tot die geïsoleerde dorpenaars op die platteland, alle mense kan God se teenwoordigheid geniet. Baie doen egter nie. Hulle swoeg deur die lewe asof daar geen God is wat hulle liefhet nie. Asof hulle enigste krag hul eie is. Asof die oplossing van binne af kom, nie van bo af nie. Hulle lewe goddeloos.
Jy hoef dit egter nie te doen nie. Jy kan: 1) Op God se teenwoordigheid steun. “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie'” (Hebreërs 13:5 NLV). 2) Op God se mense steun. ‘Waar twee of drie bymekaarkom omdat hulle my mense is, is Ek immers ook saam met hulle daar’ (Matteus 18:20 NLV).
Toe Moses en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het, het God vir Josua beveel om die geveg in die vallei te lei, terwyl Moses die koppie uitgeklim het om te bid. Hy het egter nie alleen gegaan nie. Hy het sy twee luitenante, Aäron en Hur, saamgeneem. Terwyl Josua die fisiese geveg gelei het, was Moses by ‘n geestelike geveg betrokke. Aäron en Hur het weerskante van hulle leier gestaan om sy arms tydens sy strydgebed op te hou. Die Israeliete het die Amalekiete oorwin omdat Moses gebid het en Moses het gewen omdat hy ander gehad het wat saam met hom gebid het. Jy kan ook gebedsondersteuning inroep.
Jesus het gesê: ‘…As twee van julle hier op aarde sou saamstem oor enigiets wat julle van God behoort te vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen’ (Matteus 18:19 NLV). Steun dus op God se teenwoordigheid en sy mense.
Sielskos: Jes 26-29; Matt 10:11-20; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10