Stel hierdie jaar die eerste dinge eerste

2024-01-02
Psalm 90:12 NLV

Ons almal kry dieselfde vier-en-twintig uur in ‘n dag. Ons sal aan God rekenskap moet gee oor hoe ons ons dae gebruik (sien Prediker 11:9). ‘n Goeie plek om te begin is om jouself af te vra: ‘Hoe sal ek die volgende vier-en-twintig uur bestee as ek more voor God moes staan?’ Jou antwoord sal jou help om jou lewe te prioritiseer.

Dink daaroor: As iemand jou kar steel, kan jy ‘n ander een koop. As iemand jou beursie steel, sal jy moontlik ‘n paar kaarte moet kanselleer om die situasie op te los. Wat kan jy egter doen wanneer jy jou tyd verloor? Hoe jy jou tyd bestee is hoe jy jou lewe bestee! Efesiërs 5:16 sê: ‘Benut elke geleentheid…’ (NLV), leer dus om die volgende dinge te doen:

1) Hou op om vir almal ja te sê. Wanneer jou geestelike instink nee sê, maar mense van jou verwag om ja te sê, luister eerder na jou geestelike instink. Dis wat Jesus gedoen het. Dis wat Hom in staat gestel het om vir sy Vader te sê: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen (Johannes 17:4 NLV). Moenie dat die goeie die beste by jou steel nie; verminder sommige aktiwiteite sodat jy in ander kan uitblink.

2) Word deur die Gees, nie deur die vlees nie, gelei. Paulus sê: ‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie’ (Galasiërs 5:16 NLV).

3) Stel die eerste dinge eerste. ‘n Kenmerk van ware volwassenheid is om dit waarvoor jy nie lus is nie, te doen wanneer jy nie daarvoor lus is nie. Stel dus hierdie jaar die eerste dinge eerste – en hou hulle daar!

Sielskos: 1 Tess 1-3; Matt 1:18-25; Ps 116; Pred 12:13-14