Steek die ‘wat as’ lyn oor

2021-05-25
2 Korintiërs 9:11 NLV

Pastoor Andy Stanley skryf: ‘Soos jy vorentoe in jou verhouding met God beweeg, sal Hy af en toe jou greep op jou beursie toets. Dis ‘n toets van geloof; elke nou en dan sal God jou aanspoor om uit jou gemaksone van vrygewigheid te klim. As jy regtig God in beheer van jou finansies wil hou, moet jy toegee.

Daar is ‘n lyn wat jy gewillig moet wees om oor te steek. Jy moet gewillig wees om op ‘n plek te kom waar jy nie op jou eie finansiële opgaring kan vertrou nie, maar slegs op die Here self as jou voorsiener. Dit beteken nie dat jy onverantwoordelik met jou geld moet wees nie. Jy moet egter ‘n houding hê waar God se stem harder as jou eie ‘wat as’ vrae in jou lewe is. Jy kan daaraan as jou ‘wat as’ lyn dink. Jy sal weet dat jy naby daardie lyn is wanneer jou begeerte om vrygewig te wees voor vrae soos: ‘Wat as die rentekoers verander?’ of ‘Wat as die inflasiekoers verhoog?’ te staan kom.

Hierdie lyn is verskillend vir almal. So vreesaanjaend soos dit met tye kan voel, gee God ons finansiële saad vir een doel: om te saai. Tensy ons ons hande oopmaak en die saad laat val, sal ons nooit weet watter vrugte Hy daaruit te voorskyn kan bring nie.’ Hier is ‘n Bybelse beginsel waarvan jy altyd seker kan wees: ‘…wie ruimhartig saai, sal volop oes’ (2 Korintiërs 9:6 NLV). Wanneer jy daardie tree van geloof neem en die ‘wat as’ lyn oorsteek, belowe God jy sal: ‘In elke opsig… ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees…’ (vers 11 NLV). Begin saai en kyk wat gebeur.

Sielskos: 1 Kon 10-11; Mark 11:12-26; Ps 45; Spr 12:7-9