Stappe na vergifnis (1)
2023-03-24Kolossense 3:13 NLV
Die ellende om met onvergifnis in jou hart te lewe, duur altyd langer as die pyn van die oortreding. Altyd! Wanneer jy aan wrokkigheid vashou, maak jy die deur vir depressie en fisiese siektetoestande oop. Vergifnis genees jou wonde en herstel jou vreugde. Hier is twee stappe om jou te help om te vergewe:
1) Onthou dat jy onvoorwaardelik vergewe is. Onthou God se genade teenoor jou en die prys wat vir jou vergifnis betaal is. Wanneer jy weier om genade te betoon, is jy soos die man wat Jesus gesê het van ‘n enorme skuld kwytgestel is, maar geweier het om ‘n ander man se skamele skuld aan hom te vergewe (sien Matteus 18:23-34). Die genade wat God aan jou bewys het, laat jou met geen rede om te weier om die persoon wat jou seergemaak het, te vergewe nie.
2) Bevry die oortreder van die skuld wat hulle aan jou verskuldig is. Jy mag dalk heeltemal geregtig wees om te sê: ‘Hulle skuld my vir dit wat hulle gedoen het!’ Jou vriende mag dalk saamstem. Die wet mag dalk saamstem en jy mag dalk dink dat die enigste manier hoe jou oortreder gaan leer om te doen wat reg is, is wanneer hulle vir hulle fout boet. Solank as wat jy egter aan jou ‘regte’ vashou, word jy aan die verlede vasgeketting. Jou toekoms word deur die verlede gyselaar gehou.
Jou oortreder se sonde teen jou is deur dieselfde opofferende liefde wat jou sondeskuld gekanselleer het betaal, dus het hulle dieselfde behoefte en reg tot vergifnis as wat jy het. Vergifnis is ook nie net tot hulle voordeel nie, maar tot joune ook: ‘…As julle ander vergewe, sal julle vergewe word’ (Lukas 6:37 NLV).
Sielskos: Job 21-23; Luk 20:27-47; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21