Staan op God se Woord (4)
2020-01-241 Korintiërs 10:13 NLV
Wanneer jy jou huweliksbeloftes verbreek. Jy oortree God se Woord, breek jou eggenoot se hart, lewe met die vrees om uitgevang te word en ruil korttermyn plesier vir langtermyn pyn. Voor jy dus betrokke raak, soek God se hulp en staan op sy Woord. ‘Respekteer die huwelik in alle omstandighede. Wees getrou aan julle huweliksmaats. God sal almal wat immoreel lewe en in die huwelik ontrou is, in die oordeel bring’ (Hebreërs 13:4 NLV). ‘Daarom moet julle die volgende wêreldse dinge afsterf wat deel van julle lewe is: seksuele sondes, alles wat julle onwaardig maak om God te ontmoet, wellus, slegte begeertes en gierigheid…’ (Kolossense 3:5 NLV). ‘…Ons moet nie betrokke wees by… seksuele en losbandige uitspattigheid… nie. Nee, soos ‘n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus ‘aantrek’, en nie ‘n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie’ (Romeine 13:13-14 NLV). ‘Vlug dus weg van seksuele losbandigheid. Geen ander sonde beïnvloed ‘n mens se liggaam so direk soos hierdie een nie… Of verstaan julle nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie, want julle is teen ‘n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggame verheerlik’ (1 Korintiërs 6:18-20 NLV). ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). As jy met die idee speel om ‘n affair te hê, of as jy alreeds in een is, of as jy probeer om uit een te kom, staan vandag op die Woord van God en glo Hom vir ‘n oorwinning.
Sielskos: Jes 1-3; Matt 9:27-38; Ps 96; Spr 3:5-6