Snoer jou mond!

2024-04-20
Jakobus 3:2 NLV

Die Bybel sê baie oor die gevare van die tong. Jakobus wy ‘n hele hoofstuk aan hierdie onderwerp toe: ‘…Maar ‘n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry.’ Dit is ‘n aspek van selfbeheersing om nogal te oorweeg! Die Griekse wysgeer Publius het gesê: ‘Ek het al dikwels my woorde berou, maar nog nooit my stilte nie.’ Die skrywer William Edward Norris het geskryf: ‘As jy jou lippe van glipse wil bewaar, let vyf dinge versigtig op; met wie jy praat, van wie jy praat, hoe, wanneer en waar.’

Koning Dawid stel dit as volg: ‘Ek het gedink dat ek baie goed moet kyk hoe ek leef, want ek wil nie verkeerde dinge sê en so sonde doen nie. Voordat ek praat, sal ek eers mooi dink wat ek sê…’ (Psalm 39:2 DB). Dawid sê dat mens ‘n bewuste besluit moet maak om jou woorde te tel. As jy dit wil doen, is daar drie beginsels waarvolgens jy moet lewe:

1) Dink eerste. Voor jy praat, dink vir tien sekondes en oorweeg eers jou woorde. Is hulle akkuraat of oordrewe? Vriendelik of snydend? Nodig of onnodig? Dankbaar of klaend? Wat jy vandag nie sê nie, hoef jy nie môre oor verskoning te vra nie.

2) Praat minder. Jou kanse om in die moeilikheid te kom neem eksponensieel toe wanneer jy te veel praat. Dis hoekom kompulsiewe praters dit dikwels moeilik vind om vriende te behou. Bewaar jou verbale energie.

3) Begin vandag. Jy het reeds genoeg gelees om jou te help om jou tong in bedwang te hou. Snoer dus vandag jou mond – en kyk hoe dit jou lewe verryk.

Sielskos: Hand 8-9; Mark 3:28-35; Ps 130; Spr 10:24-26