Sleutels tot gebede wat beantwoord word (2)

2022-06-06
1 Johannes 5:14 NLV

Ken God se wil. Johannes skryf: ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (verse 14-15 NLV). Een van die sekerste maniere om te weet dat jy volgens God se wil bid, is om volgens sy Woord te bid. Gebruik die Skrif om dit waarvoor jy bid, te rugsteun. Sê: ‘Here, U het dit in u Woord beloof en ek glo U daarvoor.’

Soms is daar dinge waarvoor ons wil bid, maar ons is nie seker of daardie dinge volgens die Skrif God se wil vir ons is nie. In daardie geval moet jy God vra om dit vir jou te gee as dit in sy wil is – en om jou te help om tevrede te wees met sy besluit. Sint Augustinus het gebid: ‘Gee dat ek u wil kan doen asof dit my wil is, sodat U my wil kan doen asof dit u wil is.’ D.L. Moody stel dit so: ‘Vra vir God wat jy wil hê en sê dan: ‘Laat egter nie my wil geskied nie, maar u wil.’ Die lekkerste ding wat ek in God se skool geleer het, is om die Here vir my te laat kies.’

Jy mag dalk moet wag, want God se tydsberekening is deel van sy wil. Wees geduldig; dit sal gebeur. Jy mag dit dalk nog nie sien nie, maar as God dit beloof het, is dit op pad. Onthou egter ook: As Hy nie dit vir jou gee waarvoor jy gevra het nie, sal Hy vir jou iets beters gee wanneer jy in geloof wandel en ‘n goeie houding behou.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 14:22-36; Ps 116; Spr 12:25