Slaan ag op jou eie raad

2024-02-02
Spreuke 5:1 NLV

Salomo het vir sy seun gesê: “My seun, slaan ag op my wysheid… Die onsedelike vrou kom met mooi woordjies. Haar tong is so glad soos olie. Die einde daarvan is egter so bitter soos gif. Sy is so gevaarlik soos ‘n swaard wat alkante skerp is… Bly ver weg van hierdie vrou. Kom nie naby haar huis nie. Jy gaan jou eer verloor ter wille van ‘n slegte vrou. Jy gaan jou beste jare op ‘n hartelose mens vermors. Buitelanders sal die voordeel van jou besittings geniet. Jou swaar verdiende inkomste sal in die huis van vreemdes beland… Jy gaan jouself verwyt: ‘Ek wou nie luister na vermaning en my steur aan teregwysing nie… Amper het ek geheel en al in slegtigheid verval, voor die oë van almal'” (verse 1, 3-4, 8-10, 12, 14 NLV).

Dis altyd makliker om goeie raad uit te deel as om dit te volg. Salomo se lewe is ‘n bewys daarvan. Hy vertel ons herhaaldelik en met groot oortuiging dat slegs dwase owerspel pleeg. Hy het egter nie na sy eie raad en God se duidelike waarskuwing: ‘Die koning mag nie baie vroue hê nie, want hulle sal hom tot ontrouheid aan die Here verlei…’ (Deuteronomium 17:17 NLV), geluister nie.

Hier is ‘n interessante vraag: Was die rede waarom Salomo soveel oor hierdie spesifieke onderwerp te sê gehad het, omdat dit ‘n gebied van stryd en kwesbaarheid in sy eie lewe verteenwoordig het? Soms doen leiers dit; hulle vaar uit teen areas van swakheid wat hulle in hul eie lewens sien. Een ding is seker; as Salomo die raad wat hy sy seun gegee het gevolg het, sou sy lewensverhaal baie anders gewees het. Die woord vir jou vandag is dus – slaan ag op jou eie raad.

Sielskos: Num 14-15; Matt 10:32-42; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26