Samevoeging van twee gesinne

2023-01-19
2 Korintiërs 13:11 NLV

The Brady Bunch was ‘n populêre televisieprogram waar ‘n ma en pa met ses kinders een groot gelukkige familie sonder konflik of wedywering, bymekaar gebring het. Die probleem is dat dit selde so gebeur. As jy dus van plan is om weer te trou, is hier drie uitdagings waarvoor jy God se hulp nodig sal hê:

1) Dis algemeen vir kinders om ‘n nuwe stiefouer as ‘n indringer te sien. Hul lojaliteit aan die nagedagtenis van hul ma of pa kan intens wees. Om ‘n nuweling te verwelkom voel vir hulle soos ‘n daad van verraad. Dit kan die stiefouer in ‘n moeilike situasie plaas.

2) Dit is algemeen dat een kind in die magsvakuum inbeweeg wat deur die vertrekkende ouer agtergelaat word en hulself as ‘n surrogaat-eggenoot sien. Die status en mag wat met hierdie ondersteunende rol gepaardgaan, is baie sterk en ‘n kind mag dalk nie bereid wees om dit prys te gee nie.

3) Elkeen van ons is irrasioneel tot ons eie vlees en bloed verbind. Wanneer konflik dus in die gesin ontstaan, is ouers byna altyd teenoor diegene wat hulle in die wêreld gebring het, partydig. Wanneer kinders hierdie spanning tussen ouers aanvoel, sal sommige van hulle dit tot hul voordeel probeer uitbuit. Daarom faal tweede en derde huwelike statisties meer as eerste huwelike. Daar is egter goeie nuus: ‘…Maar by God is alles moontlik!’ (Matteus 19:26 NLV).

Wat moet jy dus doen? Kry so vroeg as moontlik professionele berading. Ja, dis duur, maar ‘n egskeiding sal jou nog meer kos. Betrek God ook by die situasie; Hy kan vir jou die geduld, wysheid en liefde wat jy nodig het, gee. ‘…leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle bly!’ (2 Korintiërs 13:11 NLV).

Sielskos: Jes 58-62; Luk 4:1-13; Ps 89:1-14; Spr 2:20