Rooi ligte en groen ligte (3)
2021-10-28Jesaja 30:21 NLV
Iemand het een keer geskerts: ‘Toe Columbus sy reis begin het, het hy nie geweet waarheen hy op pad is nie. Toe hy daar aangekom het, het hy nie geweet waar hy is nie. En toe hy tuis gekom het, het hy nie geweet waar hy was nie.’ Ons het almal hulp nodig om te weet watter rigting om in te slaan; of ons moet verhuis of nie, ‘n sekere werk moet aanvaar, ensovoorts. Goeie nuus! God sal jou lei en wanneer jy ‘n verkeerde afdraai vat, sal Hy jou weer op die regte pad bring.
Hier is drie maniere waarop Hy dit doen: 1) Deur wyse raad. Ander was al in dieselfde situasie as jy. ‘Onthou julle voorgangers… Dink aan watter voorbeeldige lewe hulle enduit gelei het en vertrou soos hulle op God’ (Hebreërs 13:7 NLV). Is jou besigheid in die moeilikheid? Gaan praat met ‘n suksesvolle entrepreneur. Ondervind jy ‘n middeljarekrisis? Voor jy iets doen waaroor jy gaan spyt wees, vra vir hulp. Salomo het gesê: ‘Vir ‘n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad’ (Spreuke 12:15 NLV).
2) Deur gebed en om te luister na God se stem. Jesus het gesê: ‘My skape luister na my stem; en Ek ken hulle en hulle volg My’ (Johannes 10:27 NLV). Jesaja skryf ook: “Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs.'” Dis die tipe gerusstelling wat jy nodig het. Dus: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles…’ (Filippense 4:6 NLV).
3) Deur die Skrif. Paulus sê: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ (Kolossense 3:16 NLV). Dit beteken egter dat jy die Skrif moet lees, dit moet verpersoonlik en daarvolgens moet optree.
Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:1-13; Ps 104:1-18; Spr 24:26-27