Rooi ligte en groen ligte (1)
2021-10-26Handelinge 16:7 NLV
Wanneer God jou ‘n groen lig gee, moet jy gaan. En wanneer Hy jou ‘n rooi lig gee, moet jy stop. ‘Hulle het deur die streke van Frigië en Galasië gereis omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord op daardie stadium in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het deur Misië gereis na Troas toe. Daar het Paulus in die nag ‘n visioen ontvang. Hy het ‘n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: ‘Kom oor na Masedonië toe en help ons.’ Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het on die evangelie daar te verkondig’ (verse 6-10 NLV).
Na ‘n reeks groen ligte, het God vir Paulus ‘n rooi lig gegee. Hoekom? 1) Omdat die tydsberekening nie reg was nie. Apollos moes eers soontoe gaan om die grondslag te lê. 2) Omdat God Paulus en Barnabas êrens anders nodig gehad het. 3) Omdat God wou gehad het dat hulle meer ervare moes wees voordat hulle so ‘n groot taak onderneem het. Let die woorde op: ‘…Hulle… het… probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie’. Hoe gerusstellend!
A.B. Simpson het gesê: Dikwels is daar niks so goddelik soos onaktiwiteit van ons kant af nie, of niks so skadelik soos ‘n onrustige gewerskaf nie, want God het belowe om sy soewereine wil te bewerk.’ Vandag mag God dalk vir jou sê: ‘Wees stil en weet Ek is God! Ek sal vereer word [in hierdie situasie]…’ (Psalm 46:11)
Sielskos: Esra 3-5; Joh 6:35-51; Ps 127; Spr 24:19-22