Respekteer en onderwerp jou aan gesag (2)

2022-03-08
Jeremia 44:16 NLV

Misbruik die gesaghebbendes soms hulle posisie en bewys dat hulle onwaardig daarvoor is? Ja, maar dit beteken nie dat jy kan rebelleer nie. Die Bybel sê dat Jesus Hom in sy jeug aan die gesag van sy ouers onderwerp het (sien Lukas 2:51). Selfs toe sy bediening deur demonstrasies van bonatuurlike krag gekenmerk is, het Hy steeds die mense geleer om aan die Romeinse regering onderdanig te wees. ‘…Gee dan aan die keiser wat die keiser s’n is en aan God wat God s’n is’ (Lukas 20:25 NLV).

Onderwerping aan gesag is nie opsioneel vir ‘n volgeling van Jesus nie. Of jy nou vir ‘n bevordering oorgesien is, ‘n onbekwame baas het, of voel dat jy onregverdig behandel is, dis nog steeds God se wil dat jy gesag sal respekteer en jouself daaraan sal onderwerp. Wanneer jy sy wil gehoorsaam, werk Hy namens jou.

Soos jy jou neiging om uitdagend te wees oorweeg, moet jy probeer om die oorsaak daarvan te bepaal, wat die volgende mag insluit: 1) ‘n Angswekkende geskiedenis van lyding of mishandeling. 2) Disrespek vir ‘n onbekwame meerdere. 3) Trots omdat jou vaardighede nie erken of beloon word nie. 4) Onregverdige gedrag van diegene in outoriteit. 5) ‘n Taktiek van jou kant af om die eerlikheid, sorg of besorgdheid van gesagsfigure in jou lewe te toets.

Die Bybel sê egter: ‘Dit impliseer dat hulle wat weier om die owerheid te gehoorsaam, hulle teen die instelling van God verset. Dié wat dít doen, bring ‘n oordeel oor hulleself’ (Romeine 13:2 NLV). Bid dus: Here, ek bely dat ek ‘n rebelse houding het. Herinner my asseblief dat alle gesag van U af kom en dat wanneer ek dit teenstaan, ek U teenstaan. Bemagtig my om myself te onderwerp. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Eks 28-29; Luk 14:15-24; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2