Respekteer en onderwerp jou aan gesag (1)

2022-03-07
Hebreërs 13:17 ABA

Totdat jy leer om jouself aan gesag te onderwerp, sal jy nooit gekwalifiseer wees om dit uit te oefen nie. Hoekom? 1) Omdat jy geen geloofwaardigheid sal hê nie. 2) Omdat jy nie regtig sal verstaan wat dit beteken om ‘n volgeling te wees nie. ‘n Opstandige houding sal jou ‘n eenrigting kaartjie na ‘n lewe van moeilikheid en mislukking koop.

Die Bybel sê die volgende: 1) Kinders moet geleer word om hulle aan die gesag van hulle ouers te onderwerp. “Kinders, omdat julle in die Here glo, moet julle aan julle ouers gehoorsaam wees… ‘Eer jou vader en jou moeder’ is die eerste van die Tien Gebooie waaraan ‘n belofte verbind is: ‘Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag lewe'” (Efesiërs 6:1-3 NLV).

2) Vrouens moet hulself aan die leierskap van hulle mans onderwerp. (En mans moet bewys dat hulle waardig is vir daardie rol en verantwoordelikheid daarvoor neem). ‘Getroude vroue, julle moet aan julle mans onderdanig wees. Doen dit soos vir die Here’ (Efesiërs 5:22 NLV).

3) Lidmate van die kerk moet hulle aan die leierskap van hulle pastoor onderwerp. ‘Julle moet luister na julle leiers en julle moet doen wat hulle vir julle sê, want hulle hou aan om julle op te pas, hulle sal eendag vir God moet sê hoe dit met julle gaan…’

4) Landsburgers moet hulle aan die gesag van hulle regering onderwerp. ‘Julle moet die regering gehoorsaam, want God het dit daar geplaas… Dit impliseer dat hulle wat weier om die owerheid te gehoorsaam, hulle teen die instelling van God verset…’ (Romeine 13:1-2 NLV). ‘Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid… Bid só vir konings en alle ander in gesagsposisies… So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser’ (1 Timoteus 2:1-3 NLV).

Sielskos: Eks 25-27; Luk 14:1-14; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35