Reageer soos Jesus
2022-07-151 Petrus 2:23 NLV
Wanneer iemand jou teleurstel of jou ontstel, wat doen jy? Hoe lyk jou reaksie? Sê jy: ‘Jy maak my so kwaad!’ Wanneer jy dit sê, erken jy dat iemand anders in beheer van jou emosies is. Jy erken dat jy daardie persoon die mag gegee het om jou gevoelens en emosies te bepaal. Die Bybel sê: ‘Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:21 NLV). Om terug te slaan is ‘n reaksie. Om egter te vergewe, is om daadwerklik op te tree. Dit sê: ‘Ek kies die manier waarop ek reageer.’
Beheer ander mense jou emosionele toestand? Laat jy hulle toe om jou vlakke van geluk te verhoog of jou in bekommernis, vrees of woede te dompel? ‘Dis beter om geduldig te wees as dapper. Selfbeheersing is beter as om ‘n stad in te neem’ (Spreuke 16:32 NLV). Die persoon wat sy buie en reaksies kan beheer, is sterker as ‘n ommuurde stad. ‘n Persoon wat egter nie hulle eie gees kan beheer nie is weerloos, soos ‘n stad sonder mure. Daardie persoon het geen verweer nie; hulle is uitgelewer aan wat ook al iemand aan hulle wil doen.
Krag word in sagmoedigheid gevind en sagmoedigheid het die vermoë om seer te hanteer sonder om weerwraak te neem; dit kan die hou absorbeer sonder om terug te slaan. Jesus sê vir ons om die ander wang te draai (sien Matteus 5:39). Jy sê: ‘Dis nie maklik nie.’ Nee, dit is nie; soms is dit amper onmoontlik. Jy sê: ‘Om so te reageer is nie natuurlik nie.’ Jy’s reg, dit is bonatuurlik; dis is die vrug van die Gees (sien Galasiërs 5:22-23). Jy het God se krag nodig om op hierdie manier te leef.
Sielskos: Jer 51-52; Matt 26:14-25; Ps 118:1-9; Spr 15:27-30