Raad oor romantiese afsprake

2023-01-25
Amos 3:3 NLV

Daar is geen toets wat kan voorspel hoe ‘n romantiese afspraak uiteindelik sal uitdraai nie, maar hier is vyf vrae wat jy altyd jouself moet afvra: 1) Wat is my eerste indruk van hierdie persoon? Byvoorbeeld, met wie hang hulle uit? Watter tipe geleenthede geniet hulle? Lieg hulle? Steel? Vloek? Gebruik hulle dwelms? Dis die tipe inligting wat jou ongekende hartseer in die toekoms kan spaar. Jy moenie mense op hulle baadjie takseer nie, maar totdat jy regtig iemand leer ken, is dit die inligting wat jy tot jou beskikking het.

2) Hoe goed ken ek hulle? Is dit nie wyser om met iemand wat jy al ‘n rukkie ken, in plaas van ‘n vreemdeling, ‘n verhouding aan te knoop nie?

3) Betoon hulle genade teenoor ander mense? Daar is niks erger as ‘n man wat met sy vorige verowerings spog, of ‘n vrou wat gedurig haar eks kritiseer nie. Sal jy so ‘n soort persoon met jou reputasie en jou hart vertrou?

4) Deel ons dieselfde waardes? Die Bybel sĂȘ: ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’ Jy moet weet dat jou moontlike maat ‘n toegewyde Christen is wat volgens sy of haar beginsels leef. Watter tipe standaarde het hulle oor dinge soos geld, sedes en rolprente?

5) Kan ek hulle vertrou om hulle woord te hou? Was hulle lojaal in vorige verhoudings, of het hulle geflankeer of hul maat verkul? Iemand wat hulle woord verbreek, word uiteindelik ook iemand wat harte breek.

Hier is goeie raad wanneer jy ‘n verhouding wil aanknoop: ‘Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:6 NLV).

Sielskos: Gen 1-3; Luk 5:27-39; Ps 100; Spr 3:7-8