Probeer stadiger beweeg (2)
2022-07-03Jesaja 28:16 AFR53
Elke keer wat jy haastig raak, stuur jy ‘n ‘noodtoestand’ sein na jou liggaam toe. Jou liggaam reageer dan deur die streshormone adrenalien en kortisol vry te stel, wat jou voorberei om gevaar te hanteer. Die liggaam kan nie tussen fisiese gevaar, of die gevaar om jou werk te verloor, of enige ander vorm van stres en druk onderskei nie. Dit weet net dat aksie geneem moet word en dat jy energie nodig het om dit te hanteer.
Dis ‘n goeie ding wanneer jy inderdaad in fisiese gevaar verkeer. Om egter voortdurend met jou liggaam op ‘n hoë gereedheidsgrondslag te leef, is soos om vyftien ononderbroke rondtes in die bokskryt te veg. Kort voor lank sal jy die prys in die vorm van hartsiektes, maagsere, vergeetagtigheid en ‘n menigte ander toestande, betaal.
Wat is dus die oplossing? Bewustheid, geloof en verandering. Raak bewus van jou aanhoudende neiging om in hoë rat te beweeg en vra jouself af wat jy kon gedoen het om te keer dat jy haastig moet beweeg. Glo dat die Heilige Gees jou ‘n oorwinning sal gee as jy Hom vra om jou gedrag te verander. Verander self – probeer bewustelik stadiger beweeg. Praat stadiger, beweeg stadiger.
Hoe meer haas, hoe minder spoed. Haas veroorsaak duplisering van werk, ongelukke en ander dinge wat tydmors tot gevolg het. Is jy besig om vandag se dagstukkie te spoedlees? Indien dit die geval is, is die woord vir jou vandag: Probeer om twee keer so lank te neem om hierdie dagstukkie te lees en daaroor te mediteer en vra vir God: ‘Wat wil U vir my sê? Watter veranderinge wil U in my lewe teweeg bring? Op watter maniere wil U hê moet ek verbeter?’ God is nie haastig nie, begin dus stadiger en in pas met Hom beweeg.
Sielskos: Eks 20:1-17; Matt 5:1-12