Probeer om meer buigsaam te wees

2024-02-26
Jakobus 3:17 NLV

Buigsame mense is gelukkige mense. Hulle ervaar baie minder stres as die rigiede mense wat daarop aandring dat dinge altyd op ‘n sekere manier gedoen moet word. Een van die redes hoekom onbuigsaamheid so stresvol is, is omdat ons ons doelwitte moet bereik deur denkende mense wat dikwels hulle eie idees, wat van ons s’n verskil, het. As jy nie die tipe mens is wat ontvanklik vir nuwe idees is nie, omdat jy dit as ‘n persoonlike verwerping van jou eie idees sien, moet jy Jesus, die Groot Geneesheer, vra om korrektiewe chirurgie op jou te doen.

Die Fariseërs was die toonbeeld van perfeksionisme en onbuigsaamheid. Toe hulle Jesus daarvan beskuldig het dat Hy nie die Sabbat onderhou nie, het Hy gesê: ‘…Die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie’ (Markus 2:27 NLV).

Hoe buigsaam is jy? Is jy so spesifiek by die huis dat jou familie op eiers loop in die vrees dat hulle een van jou eindelose voorkeure sal skend? Moet die handdoeke altyd op ‘n spesifieke manier gevou word? As planne moet verander, raak jy angstig of stop en oorweeg jy dit dat God dalk ‘n ander plan mag hê? Moenie probeer om jou gedrag te regverdig deur dit onder die mantel van ‘uitnemendheid’ te probeer wegsteek nie. Ja, jy sal graag wil sien dat dinge op die beste moontlike manier gedoen moet word; probeer egter verstaan wanneer jou gedrag die gebied van uitnemendheid verlaat en begin grens aan ‘n onbuigsame perfeksionis wat nie net vir jouself nie, maar ook vir ander, stres veroorsaak.

Die woord vir jou vandag is – ontspan. Wees bietjie buigsaam. Probeer om dinge te vat soos dit kom.

Sielskos: 1 Kon 10-11; Matt 17:1-13; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8