‘Ploeter’ voort en jy sal suksesvol wees

2019-08-09
1 Korintiërs 15:58 NLV

Toe William Carey die moontlikheid om as pioniersendeling na Indië toe te gaan begin oorweeg het, het sy pa uitgewys dat hy geen akademiese kwalifikasies vir die werk gehad het nie. Carey het geantwoord: ‘Ek kan voortploeter.’ En hy het. Toe hy na Indië gegaan het, het ‘n tipiese dag as volg gelyk: Hy het 5:45 opgestaan om die Hebreeuse Bybel te lees en Bybelstudie te doen. Teen 7:00 het hy die familie in gebed in Bengaals gelei en die Persiese taal en Hindoestani saam met ‘n private onderwyser bestudeer. Na ontbyt het hy Sanskrit na Engels vertaal. Teen 10:00 is hy na die kollege toe waar hy tot 14:00 gedoseer het, waarna hy tekste na Bengaals toe vertaal het tot dit tyd vir aandete was. Na ‘n vroeë aandete, het hy weer Sanskrit vertaal en die Telugu taal bestudeer totdat hy om 19:30 gaan preek het. Hy het teen 21:00 teruggekeer om vir nog twee ure vertaalwerk te doen, briewe aan sy vriende in Engeland te skryf en ‘n hoofstuk in sy Griekse Nuwe Testament te lees. Daar word geglo dat Carey meer as enigiemand anders gedoen het om die boodskap van Christus na Indië te neem en die kerk daar te vestig. Hy het dit gedoen deur (volgens hom) voort te ploeter! Hier is twee Skrifgedeeltes waarop jy kan staan: 1) ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV). 2) ‘Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd’ (1 Korintiërs 15:58 NLV). Hierdie Skrifgedeeltes kan as volg opgesom word: Ploeter voort en jy sal suksesvol wees.

Sielskos: Rig 1-3; Matt 15:29-39; Ps 119:49-56; Spr 17:18-21