Pasop vir selfbejammering
2023-04-241 Korintiërs 10:24 NLV
Selfbejammering kan dodelik wees. Dit sê vir die vrou en moeder wat hard werk: ‘Niemand waardeer jou nie.’ Dit sê vir die kantoorwerker: ‘Kyk hoe waardevol is jy, tog kry jy nooit erkenning of word daarvoor beloon nie.’ Dit sê vir die werklose: ‘Jy gaan nie ‘n kans kry nie!’ Vir die geskeide persoon: ‘Daar is geen plek vir jou nie!’ Vir die bedroefde: ‘Daar is geen hoop nie!’ Vir die sukkelende: ‘Daar is geen manier nie!’
Kyk na die profeet Elia. Vier-en-twintig uur na sy grootste oorwinning, was hy baie depressief en het homself baie jammer gekry: ‘…Ek het nou genoeg gehad… Neem nou maar my lewe… Ek het U met toewyding gedien… Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak’ (1 Konings 19:4, 10 NLV).
Oor die algemeen is daar twee redes vir selfbejammering. Die eerste is emosionele manipulasie. Ons gebruik selfbejammering om mense skuldig te laat voel en ons ons sin te laat kry. Dis onvolwassenheid en jy moet dit aanspreek, of dit nou in jouself of iemand anders is. Aan die ander kant, kan selfbejammering ook uit pure uitputting spruit. God het vir Elia vier dinge gewys wat nodig was om homself weer op koers te kry: 1) Hy moes meer rus. 2) Hy het nie reg geëet nie. 3) Hy het probeer om alles in sy eie krag te doen. 4) Hy was geïsoleerd en het ‘n vriend nodig gehad. Dus het God vir hom Elisa gegee. Dit het die probleem opgelos en die volgende keer wat ons vir Elia sien, is hy weer sy ou self.
Neem vandag ‘n oomblik en dink hoe hierdie vier waarhede op jou lewe van toepassing is.
Sielskos: Dan 1-2; Matt 3:11-17; Ps 113; Spr 10:15