Pasop om ‘n meerderwaardige houding te hê (2)
2023-01-151 Korintiërs 15:10 NLV
Wanneer jy minder van iemand dink omdat hulle nie lid van jou ras, denominasie, geslag of sosiale groep is nie, vertoon jy ‘n meerderwaardige houding. Meerderwaardigheid skiet in trots wortel: ‘God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid’ (Jakobus 4:6 NLV).
Hier is twee voorbeelde uit die Bybel van meerderwaardige houdings: 1) Toe God sy Gees op die sewentig leiers wat Israel moes lei uitgestort het, het hulle almal geprofeteer. Twee van hulle was nie teenwoordig toe dit gebeur het nie. Later het Josua hulle gesien waar hulle ook profeteer en dit aan Moses gerapporteer. “‘Meneer moet hulle stop!’ Moses het hom geantwoord: ‘Is jy ter wille van my jaloers op hulle? Het die Here tog maar die hele volk profete gemaak! Het sy Gees maar oor hulle almal gekom!'” (Numeri 11:28-29 NLV). Josua het geglo dat net ‘n uitgesoekte groep daarvoor gekwalifiseer het.
2) “Johannes sê toe vir Hom: ‘Leermeester, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf, maar ons het hom probeer keer, want hy is nie een van ons groep nie.’ ‘Moenie hom keer nie,’ het Jesus gesê, ‘want niemand wat wonders doen in my Naam sal van My kan kwaadpraat nie. Wie nie teen ons is nie, is vir ons'” (Markus 9:38-40 NLV).
As jy ander mense in enige aspek van die lewe uitsluit of meerderwaardig teenoor hulle voel, lees dan hierdie woorde van Paulus: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het.’
Sielskos: 1 Kor 13; Dan 6:1-24