Pasop om ‘n meerderwaardige houding te hê (1)
2023-01-14Romeine 12:3 ABA
Paulus skryf: ‘Jy moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie. Jy moet verstandig dink oor jouself en oor alles. Julle moet onthou dit is God wat vir julle elkeen sê hoe julle Hom moet dien. Ons is soos ‘n mens se liggaam. ‘n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele, en elke deel doen iets anders… Ons is baie mense, maar ons behoort aan Christus en daarom is ons soos een liggaam… God het genadegawes vir ons gegee, maar God het nie dieselfde genadegawes vir ons almal gegee nie… (verse 3-6 ABA).
Paulus leer ons hier ‘n belangrike beginsel: Moenie ‘n meerderwaardige houding hê nie. As jy meerderwaardig is, moet jy besef dat elke voordeel of guns wat jy geniet, ‘n gawe van God is (sien 1 Korintiërs 4:7). Selfs as jy dink dat jy dit op eie houtjie bereik het, lees die volgende woorde en neem dit ter harte: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees: Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan wat Hom toekom nie, maar Hy het dit prysgegee: Hy het ‘n slaaf geword en aan mense gelyk geword. En toe Hy as mens geleef het, het Hy Homself nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees, ja, tot die kruisdood toe! Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam’ (Filippense 2:3-9 NLV).
Sielskos: Jes 42-44; Luk 2:41-52; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8