Pak jou reus aan

2024-02-13
1 Samuel 17:50 NLV

Chuck Swindoll sê: ‘Goliat herinner my aan die skeel diskusgooier. Hy het nie enige rekords verbeter nie, maar hy het definitief die skare wakker gehou! Elke dag het Goliat rond geparadeer en dreigemente geskreeu. Die enigste reaksie van die Israeliete se leër was die geluid van hulle knieë en tande wat teen mekaar geklap het! Die reus se strategie van vrees en intimidasie het gewerk, totdat Dawid hom aan die Here voorgestel en hom met sy slinger en klip oorwin het. Twee tydlose waarhede bly tot vandag nog staan.

Een: Jy sal nie die stryd wen deur die Vyand se tegniek te gebruik nie. Wanneer jy met die wêreld se wapens veg, word jy soos die wêreld. Die Bybel sê: ‘…Hy het hom getref en doodgemaak sonder dat daar ‘n swaard in Dawid se hande was’ (vers 50 NLV). Dawid se kragtigste wapen – die ding wat hom uniek gemaak en vir hom die oorwinning gegee het – was sy innerlike skild van geloof. Dit het hom vry van vrees gemaak, sy visie helder gemaak en hom kalmte te midde van die chaos gegee.

Twee: Om reuse te oorwin verg vaardigheid en dissipline. Om die slinger en klip van die Gees te gebruik is baie meer delikaat as om die swaard van die vlees te gebruik. Paulus sê: ‘Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen die bose hemelse regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes’ (Efesiërs 6:12 NLV).

Jy is die Vyand se enigste teiken solank as wat die stryd voortduur. As jy vandag voor jou eie persoonlike reus te staan kom, maak soos Dawid; gee hom aan God oor, tel jou slinger op en laat God die oorwinning namens jou behaal.’

Sielskos: Joh 1-4; Matt 13:10-23; Ps 141; Spr 4:18-19