“Operasie Andreas”
2018-05-14Johannes 1:40-42 NLV
In die vroeë dae van sy bediening, wou Billy Graham plaaslike Christene mobiliseer om hulle vriende en familielede wat nog nie gered is nie, na sy evangeliese vergaderings toe te bring. Die Graham span het dus ‘Operasie Andreas’ op die been gebring – ‘n eenvoudige plan waarby kerkgangers die name van hulle ongeredde vriende kon neerskryf, vir hulle begin bid en hulle na Billy Graham se kruistogte uitnooi om die evangelie te hoor. Hoekom het hulle die naam ‘Operasie Andreas’ daarvoor gekies? Omdat Andreas, elke keer wat hy in Johannes se evangelie genoem word, besig was om iemand na Christus toe te neem. Eers bring hy sy broer, Simon Petrus. Dan in Johannes hoofstuk ses, bring hy die seuntjie met die vyf broodjies en twee vissies na Jesus toe. In Johannes hoofstuk twaalf lei hy ‘n groep Grieke na Jesus toe. Jy kan dieselfde doen. Jare gelede het ‘n nuwe Christen, die vier-en-twintig jarige Albert McMakin, sy vriende in sy bakkie gelaai en hulle elke aand na ‘n evangeliese veldtog in sy stad aangery. Die kans is goed dat jy nog nooit McMakin se naam tevore gehoor het nie. Jy is egter heelwaarskynlik vertroud met een van die passasiers in sy bakkie, ‘n jong man wat daardie selfde week sy lewe vir Christus gegee het – Billy Graham. Andreas het sy broer Simon Petrus na Christus toe geneem en Petrus het skare mense aan Christus voorgestel. Jy weet nooit! Die persoon met wie jy vandag jou geloof deel, of volgende Sondag saam kerk toe neem, mag dalk deur God gebruik word om dinge te doen waarvan jy nog nooit gedroom het nie. As jy jou deel doen, sal God die res doen.
Sielskos: Deut 28-29; Mark 8:14-26; Ps 44:17-26; Spr 12:12-14