Oorwin slegte gewoontes

2022-10-20
Deuteronomium 7:2 ABA

Die Amerikaanse skrywer Henry van Dyke sê: ‘Solank as wat gewoonte en roetine die lewenspatroon dikteer, sal nuwe dimensies van die siel nie na vore kom nie.’ Verandering verg nuwe gedrag, gedagtes, verhoudings en ‘n gewilligheid om ou denkpatrone te beveg. Dit beteken dat jy ‘n sterk verhouding met God moet hê!

Toe hulle die Beloofde Land binnegegaan het, het God vir sy mense gesê om hulle vyande te oorwin en te vernietig; andersins sou hul vyande hulle uiteindelik vernietig. Wanneer God dus vir jou sê om oorlog met jou slegte gewoontes te maak, moenie sê: ‘Almal doen dit,’ of: ‘Dis nie so ‘n groot probleem,’ nie. Enigiets wat jou verslaaf hou en jou verhoed om die vryheid te geniet wat Jesus vir jou op Golgota gekoop het, is ‘n baie groot probleem.

In plaas daarvan om teenstand te bied en verskonings te maak, bid: ‘Here, wys my die wortel van hierdie probleem en hoe om dit te hanteer. Ek is vandag gereed om positiewe veranderinge in my lewe te maak.’

Het jy al ooit opgelet dat wanneer jy ‘n bergtop-ervaring met God het, die Vyand altyd vir jou aan die voet van die berg wag? Nadat die dissipels alleen saam met Jesus op ‘n hoë berg was, is hulle deur ‘n man genader wie se seun in ‘n siklus van selfvernietiging vasgevang was waar hy dikwels in die vuur of water geval het (sien Matteus 17:15 NLV). Wanneer jy aanhoudend in dieselfde strikke trap, dieselfde foute maak, dieselfde soort verhoudings aanknoop of aan dieselfde gewoontes verslaaf raak, is dit tyd om jou probleem na Jesus toe te neem en Hom te vra om jou te help. Hy sal dit doen!

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 4:39-54; Ps 87; Spr 24:1-4