Oorwin die reuse in jou lewe (1)
2021-10-30Lukas 10:19 NLV
Toe hy uitgegaan het om teen Goliat te veg, het Dawid gesê: ‘…Jy kom na my toe met ‘n swaard en ‘n spies en ‘n dolk, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige… en Hy sal julle in ons mag oorgee!’ (1 Samuel 17:45,47 NLV).
Niemand in koning Saul se leër het God in die situasie ingebring nie, maar Dawid het oor niks anders gepraat nie. Hy het geglo dat die God wat hy dien, groter was as die reus waarvoor hy te staan gekom het. Glo jy dit ook? Sien jy God as groter as jou probleme? As jy in ‘n situasie is waar dit lyk of daar geen uitkomkans is nie, moet jy, in plaas van om tyd en energie te vermors om oor jou eie swakhede en tekortkominge te tob, op God se Woord staan en oor sy mag begin praat. Dawid het gesê: ‘…Die oorlog is die Here s’n…’ (vers 47 NLV). God het nog nooit ‘n geveg verloor nie!
Konfronteer dus jou reus in die Naam van die Here en verklaar: ‘Reus van skeisake, jy gaan nie my huis binnekom nie; depressie, jy sal my nie oorwin nie; alkohol, bevooroordeling, kindermishandeling, onsekerheid, wellus, jy gaan val!’ Die Bybel sê: ‘Van oos tot wes sal die Naam en die mag van die Here geëer word. Wanneer die teëstander aanstorm soos ‘n rivier, jaag die Gees van die Here hom op loop’ (Jesaja 59:19 AFR83).
Daar is drie dinge waarteen Satan nie staande kan bly nie: God se Woord, Christus se bloed en die Naam van Jesus. Wanneer jy daardie dinge gebruik, sal jy hom elke keer oorwin – soos Dawid vir Goliat laat omkap het!
Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 7:25-44; Ps 104:27-35; Spr 24:29