Oop deure

2024-09-12
2 Korintiërs 2:12 NLV

‘n Bekende skrywer sê: ‘Mense wat entrepreneurs bestudeer sê hulle presteer in iets genaamd ‘geleentheidswaaksaamheid’. Hulle kyk na dieselfde omstandighede as almal anders, maar hulle merk geleenthede op wat tot dusver misgekyk is. Hulle is voortdurend waaksaam, wagtend en ontvanklik vir geleenthede wat kan opduik.’

Paulus was so ‘n persoon. ‘Toe ek in Troas aangekom het om die Goeie Nuus van Christus te preek, is ‘n deur vir my deur die Here oopgemaak’ (vers 12 NLV). Hy het ‘goddelike geleentheidswaaksaamheid’ beoefen. Jy kan dit ook doen. Die deure wat God vir Paulus oopgemaak het, het dikwels tot swaarkry gelei. Dit het egter ook tot groot prestasie gelei.

Oop deure kom nie met ‘n noukeurige stel instruksies oor presies wat jy moet doen en presies wat as gevolg daarvan sal gebeur nie. Om te ontdek wat aan die ander kant van die oop deur wag, moet jy daardeur stap. Sal jy vrees ervaar? Elke keer wat jy die onbeproefde en onbekende aanpak, sal jy vrees ervaar. Dis dan wanneer jy jouself daaraan moet herinner dat God daar vir jou sal wag, maak nie saak wat vir jou aan die ander kant van die deur wag nie.

Hier is twee dinge wat jy in gedagte moet hou: Eerstens beteken ‘n oop deur nie noodwendig dat jy êrens nuuts gaan opeindig nie; dit beteken dat jy soms ‘n nuwe en voorheen onopgemerkte geleentheid op ‘n ou plek kan raaksien. Tweedens, oop deure bestaan nooit slegs tot voordeel van die mense vir wie dit aangebied word nie. Dit is ‘n geleentheid om ander mense te seën (sien Genesis 12:1-3). Het God vir jou ‘n deur oopgemaak? As Hy het, moenie huiwer of wankel nie; loop daardeur.

Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Luk 21:1-11; Ps 78:9-16