Onvoorwaardelike blydskap

2022-06-15
1 Johannes 1:3-4 NLV

Wanneer blydskap in jou lewe afwesig is, is krag ook afwesig (sien Nehemia 8:10). Ons vreugde moenie op dit wat om ons gebeur gebaseer word nie; dit moet van ons verhouding met Jesus afhanklik wees. Johannes sê: ‘…ons blydskap [kan] tot sy volle verwesenliking… kom’ (1 Johannes 1:4 NLV).

Pastoor Reimar Schultze merk op: ‘Johannes het dit nie gesê toe alles goed gegaan het nie, maar toe alles in duie gestort het.
1) Al sy mede-apostels is vermoor.
2) Rome het die tempel vernietig sodat daar nie een steen op ‘n ander een oorgebly het nie. Flavius Josefus, ‘n ooggetuie, het geskryf: ‘Die menigte wat omgekom het, het al die verwoesting wat mense of God al ooit oor die wêreld gebring het, oortref.’
3) Baie Jode en Christene het vlugtelinge geword. Die gemiddelde lewensverwagting was omtrent veertig jaar en 25 persent van die mense in Rome, was slawe.
4) Johannes het self as veroordeelde misdadiger op die eiland Patmos gebly. Hy het geen aardse gemak gehad nie; geen versekering dat hy nog ‘n dag sou oorleef nie. Toe sy beker van smart vol was, het God hom opdrag gegee om vir die wêreld die absolute mag en triomf van die Christendom oor alles te wys. Johannes se geskrifte, met verwysing na ons daaglikse wandel, sluit alles wat die hemel in die Woord wou openbaar af: as ons deel van die apostoliese gemeenskap is, sal ons blydskap tot sy volle verwesenliking kom.’

Die Psalmdigter het dit die beste gesê: ‘…in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV).

Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 18:1-9; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12