Onsekerheid in leierskap

2021-01-31
Filippense 2:3 NLV

Hier is die dilemma van ‘n onsekere leier: as ander in ‘n werk uitblink, vrees hulle dat dit hulle sal laat sleg lyk. Hulle vrees egter ook dat as die ander persoon die werk sleg doen, dit hulle ook sleg sal laat lyk. Dus probeer hulle alles self doen. Gevolglik behaal hulle nie sukses nie, of hulle sukses is beperk.

Paulus spreek dit as volg aan: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (verse 3-4 NLV).

Selfversekerde leiers is in staat om in ander mense te glo, omdat hulle in hulself glo. Hulle is nie arrogant nie; hulle ken hulle eie sterk- en swakpunte en respekteer hulself. Wanneer mense goed presteer, voel hulle nie bedreig nie. Hulle gaan uit hul pad om die beste mense bymekaar te bring en hulle op te bou sodat hulle na die beste van hul vermoë kan presteer. Wanneer ‘n selfversekerde leier se span sukses behaal, bring dit vir hulle groot vreugde. Hulle sien dit as die hoogste kompliment wat hulle vir hul leierskapsvaardighede kan kry.

Een skrywer merk op: ‘Die grootste hindernis om op goeie voet met ander mense te wees, is om ongemaklik met jouself te wees.’ Wat moet jy dus doen? 1) Ken jouself. As jy nie van nature daarvan bewus is nie, vra iemand wat jy vertrou om jou drie opvallendste sterk- en swakpunte te noem. Moenie jouself verdedig wanneer jy hulle antwoorde hoor nie. Samel die inligting in en reflekteer daarop. 2) Kry hulp. Jy verdien dit, jy is dit waardig! As jy jou onsekerheid kan oorkom, sal jy ‘n nuwe vlak van seën en prestasie bereik.

Sielskos: 2 Kon 6:8-20; Ef 1:15-23