Ons word deur ons swaarkry opgelei

2018-08-25
2 Korintiërs 4:17 NLV

Anders as wat jy dalk sal dink, is die ideale omgewing vir jou kinders nie een sonder probleme of toetse nie. Alhoewel dit moeilik is om te aanvaar, het jou kinders terugslae en teleurstellings wat oor hulle pad kom nodig. Hoe kan hulle leer om hulle probleme en frustrasies as volwassenes te hanteer, wanneer hulle dit nie in hul vroeë opvoeding ervaar nie? Die natuur bewys dit. ‘n Boom wat in ‘n reënwoud geplant word, word nooit geforseer om sy wortels afwaarts te strek op soek na water nie. Dus is die boom swak geanker en kan dit deur ‘n effense wind omgewaai word. In teenstelling daarmee, word die mesquite boom wat in ‘n droë woestyn geplant word, deur sy vyandige omgewing bedreig. Hoe oorleef dit? Deur sy wortels tot 9 meter in die aarde af op soek na water te strek. Deur by die harde toestande aan te pas, word die boom sterk en staan dit stewig teen alle aanvalle. Ons kinders is soos hierdie twee tipe bome. Kinders wat geleer het om hulle probleme te oorkom, is beter geanker as diegene wat nooit probleme moes hanteer nie. Jou taak is dus nie om elke uitdaging waarvoor jou kind te staan kom uit die weg te ruim nie. Jou taak is om as ‘n vertroueling en bondgenoot aan hulle sy te bly, hulle aan te moedig in hulle nood, in te tree wanneer die bedreiging oorweldigend word en beskikbaar te wees wanneer die krisis arriveer. Jy moet hulle die gereedskap gee om die onvermydelike probleme en druk van die lewe te kan hanteer. Paulus druk dit so uit: ‘Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan.’ Ons word deur ons swaarkry opgelei.

Sielskos: 2 Kro 22-24; Luk 17:1-10; Ps 119:121-128; Spr 22:4-7