“Onbeskryflik!”
2022-12-252 Korintiërs 9:15 NLV
Paulus sê dat die geskenk wat God aan elkeen van ons daardie eerste Kersfees gegee het, ‘onbeskryflik’ is. Jesaja sê vir ons: ‘Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee…’ (Jesaja 9:5 NLV). Jesus was beide God en mens. As kind is Hy gebore, maar as die Seun van God kon Hy net vir ons gegee word, omdat Hy nog altyd bestaan het. Hy is dus die perfekte oplossing vir ons sondeprobleem, omdat Hy beide die aansprake van goddelikheid en die stryd van die mensdom verstaan. Kom ons ondersoek vandag hierdie ‘onbeskryflike gawe.’
Jesus is ons bemiddelaar. Job het gesê: ‘As daar net iemand was om tussen ons te bemiddel en ons bymekaar te bring!..’ (Job 9:33 NLV). Jesus is daardie bemiddelaar. Hy hou een hand op jou en sy ander hand op God, sodat die konneksie nooit gebreek word nie. Jesus is ook ons voorbidder. Die Bybel sê: ‘Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos. Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!’ (Hebreërs 7:25 NLV).
As jy elke liewe een van jou sondes moes onthou en bely, sou jy nooit geslaap het nie; jy sou op jou knieë gelewe het. Christus se dood oorkom egter al die verkeerde dinge wat jy al gedoen het en sy lewe bedek al die goeie wat jy ongedaan gelaat het. Hy is dus ten volle gekwalifiseerd om jou voor die troon van God te verteenwoordig. Daar is net een woord wat by so ‘n Kersgeskenk pas: ‘Onbeskryflik!’
Sielskos: Jes 11:1-10; Luk 2:1-20