Om vriende met God te wees

2024-02-12
Eksodus 33:11 NLV

Wanneer jy met ‘n goeie vriend gesels, is jy ontspanne, onbewaak en oop. Jy kan uitdruk hoe jy voel sonder om te vrees dat jy geoordeel of verwerp sal word. Dis hoe Moses en God met mekaar gepraat het – soos twee vriende wat mekaar vertrou. Hulle het reguit gesê wat hulle dink en voel, sonder om vakwoorde of godsdienstige taal te gebruik.

Die Israeliete het ‘n goue kalf gemaak om te aanbid en God was kwaad genoeg om hulle te onterf en vir Hom ‘n nuwe nasie te kies. Moses het ‘n krisis op sy hande en ‘n ernstige gesprek met God daaroor gehad. In wese het hy vir God gesê: ‘U sien dit op hierdie manier Here, maar ek sien dit op ‘n ander manier – en u perspektief maak my baie ongemaklik!’ Dit klink soos ‘n openhartige gesprek tussen twee vriende. Moses was nie besig om oneerbiedig te wees nie; hy was net eerlik en reguit met God. Hulle het mekaar goed genoeg geken dat hulle kon praat: ‘…soos vriende wat gesels en mekaar in die oë kyk…’

Bid jy so? Het jy ‘n hart-tot-hart gesprek met jou vriend, God? Dis die tipe verhouding wat God met Moses gehad het en dis die tipe verhouding wat Hy ook met jou wil hê! Godsdienstige clichés en die gewone versoeklyste laat jou die geleentheid om diep en persoonlik met God te verbind, misloop. Gesels eerder openhartig met Hom. Sê vir Hom waar jy vandaan kom, wat jy regtig voel, dink en begeer; en luister dan na sy perspektief. Met ander woorde, wees ‘n vriend van God!

Sielskos: Num 34-36; Matt 13:1-9; Ps 138; Spr 4:14-17