Om mense tevrede te stel
2020-04-22Galasiërs 1:10 NLV
Wanneer jy mense tevrede probeer stel, gebeur twee dinge: 1) Dit veroorsaak dat jy jou eie behoeftes tweede stel sodat jy aan hulle behoeftes kan voldoen. 2) Dit veroorsaak dat jy jou besluite op hulle goedkeuring baseer. In beide gevalle kan jy soos ‘n deurmat begin voel. Miskien het jy vroeg in jou lewe begin probeer om mense tevrede te stel, om sodoende die aandag te kry waarna jy gesmag het en wat jy nie andersins sou kry nie. Of miskien het jy nooit geleer om jou eie oordeel te vertrou nie. Die Bybel sê: ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is…’ (Spreuke 29:25 NLV), omdat dit jou altyd in die steek laat. Nie net raak ander mense ontsteld met jou nie, jy stel jouself teleur wanneer dinge nie uitwerk nie. Dink aan die aand voor die kruisiging, toe ‘n diensmeisie nader kom en vir Petrus sê: “‘Jy was mos ook saam met Jesus die Galileër?’ Hy het dit egter voor almal ontken. ‘Ek weet nie waarvan jy praat nie,’ het hy verklaar” (Matteus 26:69-70 NLV). Na die tyd het hy oor sy eie mislukking gehuil. Toe Samuel vir Saul oor sy besluit om nie al die Amalekiete te vernietig nie gekonfronteer het, het Saul bely: ‘…Ek was ongehoorsaam aan die Here se opdrag en u voorskrifte, want ek was bang vir die manskappe en het aan hulle versoeke toegegee’ (1 Samuel 15:24 NLV). Dis goed om bedagsaam, liefdevol en geduldig te wees, maar jy moenie jouself laat intimideer en manipuleer nie. Wanneer jy aan jou vrees vir ander toegee, laat jy toe dat hulle, en nie God nie, jou lewe beheer. God wil nie hê dat jy mense uit vrees moet dien nie, maar uit liefde vir hulle – en vir Hom.
Sielskos: Dan 1-2; Mark 3:7-19; Ps 16; Spr 10:15