Nie ‘hopelik’ nie, maar ‘verseker’
2023-03-08Ps 106">Psalm 23:6 DB
Die Psalmdigter het nie woorde soos ‘miskien,’ of ‘dalk,’ of ‘moontlik,’ of ‘hopelik’ gebruik nie. Nee, hy sê: ‘sal,’ wat ‘n term van sekerheid is. ‘Sal’ beteken vir seker; sonder twyfel!
Daar is baie dinge in die lewe waarvan jy nie seker kan wees nie. Jy gaan vir ‘n doktersondersoek en ontdek dat jy ‘n kwaadaardige gewas het. Jy werk vir dieselfde maatskappy vir jare met die geloof dat jou werk veilig is, totdat hulle jou as gevolg van finansiële redes afdank. Jy bid vir jou kinders, leef voorbeeldig en leer hulle wat reg en verkeerd is, maar bevind jou dan een nag by die polisiestasie nadat hulle as gevolg van dronkbestuur of dwelms gearresteer is.
As verloste kind van God, is hier twee dinge waarvan jy seker kan wees: God se goedheid en genade. Wat is jou konsep van God? Dis ‘n baie belangrike vraag, dink dus daaroor na voor jy antwoord. Jou konsep van God sal jou vertroue in Hom bepaal. Dawid was ver van perfek af. Sommige van sy mannewales sou die voorblad van die skinderblaaie gehaal het. Hy het egter nooit aan God se goedheid en genade teenoor hom getwyfel nie: ‘…Omdat God aan my kant is, weet ek dit beslis’ (Psalm 56:10 NLV). Jesus het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV).
Sy goedheid waarborg dat daar aan elke behoefte voldoen kan word en sy genade waarborg dat elke sonde vergewe kan word. Net soos skaaphonde verlore skape terug na die trop toe dryf, so sal God se goedheid en genade jou elke keer terug na sy liefdevolle arms toe dryf.
Sielskos: Eks 28-29; Luk 14:15-24; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2