Neem ‘n geloofsgebaseerde risiko (1)

2024-09-02
Matteus 11:12 NLV

Petrus word onregverdig gekritiseer. Hy is die dissipel wat Jesus drie maal verloën het, maar hy is die enigste een wat naby genoeg aan Jesus was om uitgevang te word. Hy is die dissipel wat impulsief Malgus se oor afgekap het toe die mense gekom het om Jesus te arresteer, maar hy is die enigste een wat tot Jesus se verdediging gekom het. Hy is die dissipel wat in die See van Galilea gesink het, maar hy is die enigste dissipel wat op water geloop het.

Dis so maklik om mense vanuit die gemaklike grense van die boot te kritiseer. Daar is basies twee soorte mense: skeppers en kritiseerders – diegene wat uit die boot klim en op die water loop en diegene wat in die boot sit en die waterlopers kritiseer. Wanneer alles gesê en gedoen is, sal ons grootste spyt die God-verordende risiko’s wat ons nie geneem het nie, wees.

Die Duitse skrywer Johann Wolfgang von Goethe het gesê: ‘Hel begin die dag wanneer God vir jou die visie gee om alles te sien wat jy kon gedoen het, wat jy moes gedoen het, wat jy sou gedoen het, maar nie gedoen het nie.’ Wat glo jy is God besig om jou te lei om te doen? Wat dring die aanhoudende aansporing van die Heilige Gees jou om te doen? Doen dit.

Om nie ‘n geloofsgebaseerde risiko te neem nie, is soos om ‘n stukkie uit die legkaart van jou lewe permanent te misplaas. Dit laat ‘n teleurstellende gat agter. Wanneer ons die einde van ons lewens bereik, sal ons grootste spyt daardie vermiste legkaartstukkies wees. Gaan dus vandag voort en neem ‘n geloofsgebaseerde risiko.

Sielskos: Jos 1-4; Luk 19:1-10; Ps 84; Spr 22:24-26