Navigeer verliese in die lewe (2)

2023-02-24
Prediker 3:2 NLV

Navorsers by die Colorado Instituut vir Leed bied die volgende nuttige vlakke na herstel aan.

Vlak 1 – Skok. Ons eerste reaksie is een van ontkenning en ongeloof. ‘Ek kan nie glo dit gebeur nie – dis nie waar nie!’ Daar is ‘n verdowing van ons sintuie, ‘n God-ontwerpte natuurlike ‘narkose’ wat die eerste slag buffer en ons tyd gee om ons hanteringsmeganismes bymekaar te maak.

Vlak twee – Protes. Ons voel woede en wrokkigheid teenoor God, tog voel ons skuldig omdat ons Hom blameer. Ons blameer onsself, die dokters, die pasiënt en bevraagteken God se liefde en getrouheid – ons onderhandel selfs met Hom. ‘As U net ‘n wonderwerk sal doen en hulle terugbring, sal ek…’

Vlak drie – Wanorde. Alles val uitmekaar. Die leefstyl wat ons geken en liefgehad het, rafel uit. Die drome wat ons gekoester het, verdamp. Ons voel hopeloos, magteloos en verlore in ‘n vreemde, leë heelal. Sekondêre verliese kan opduik: finansiële onsekerheid, sosiale ontwrigting, depressie, verlies aan konsentrasie, ens. Ons is oortuig dat die lewe nooit weer normaal sal wees nie. Ons oorleef van oomblik tot oomblik, te bang om oor die pad vorentoe te dink.

Vlak vier – Herorganisasie. Onverbiddelike hartseer maak plek vir golwe van hartseer wat in frekwensie en intensiteit wissel. Ons begin om ons verlies te akkommodeer en te aanvaar. Die energie wat ons aan ons hartseer bestee het, kan weer begin gebruik word om aan die eise en geleenthede van ons nuwe leefstyl te voldoen. Stadig kom ons weer op die been en neem weer die leisels oor. Die proses sal baie maande neem en volle herstel selfs jare. God beloof egter dat dit sal gebeur! Daar sal ‘n tyd wees om ‘…gesond te maak… ‘n tyd om op te bou… te lag… te dans’ (Prediker 3:3-4 NLV).

Sielskos: 1 Tess 1-5; Luk 11:29-44; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8