Nagtelike ervarings (2)

2022-10-24
Jeremia 1:5 NLV

Wanneer God jou seën, moet jy jouself gereedmaak vir die klakouse wat dink dat Hy hulle eerder moes seën. Toe ‘n dispuut oor watter van die twaalf stamme Israel moes lei, ontstaan het, het God vir Moses gesê om elke stamleier se naam op ‘n stok te skryf en dit oornag in die tabernakel te plaas. Toe het God gesê: ‘Daar sal bloeisels kom uit die stok van die leier wat Ek verkies. Ek sal ‘n einde maak aan die Israeliete se opstand teen julle’ (Numeri 17:5 NLV). Dink jou in – ‘n ou stok sonder wortels wat in die donkerte blom! Die waarheid is dat geloof nie sonder swaarkry kan groei nie; dit moet in die duisternis van teëspoed ontwikkel.

God het vir Jeremia gesê: ‘Ek ken jou nog voordat jy gevorm is in die skoot van jou moeder…’ Voor jy nog ‘n hartklop op ‘n monitor was, het God planne vir jou gehad. Die rede hoekom jy nie op die operasietafel of in die karongeluk gesterf het nie, is omdat God sy hand oor jou hou. Hy het jou egter nie gekies omdat jy so deugsaam en wonderlik is nie. Nee, ‘Inderdaad, wat vir die wêreld onaansienlik en gering lyk… het God uitgekies… Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie’ (1 Korintiërs 1:28-29 NLV).

Die Bybel sê toe God die hemel en die aarde geskep het, ‘…[was] die diep waters toegevou in duisternis…’ (Genesis 1:2 NLV). Toe het God gepraat en gesê: ‘Laat daar ligte wees…’ Dit het toe so gebeur’ (Genesis 1:14-15 NLV). Vandag kan God lig uit jou duisternis en hoop uit jou wanhoop meebring. Hy word nie deur die duisternis geïntimideer nie – dis waar Hy sommige van sy beste werk doen!

Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 5:31-47; Ps 5; Spr 24:8-9