Nagtelike ervarings (1)
2022-10-23Psalm 30:6 NLV
Die aarde roteer voortdurend, wat beteken wanneer dit lig in een halfrond is, dit donker in die ander een is. Terwyl een persoon middernag ervaar, verbly ‘n ander persoon hom omdat die dag uiteindelik vir hom aangebreek het. Beide persone lewe op dieselfde planeet, maar hulle is op baie verskillende plekke.
Wanneer jy dus ‘n nagtelike ervaring het, sal dinge verander as jy net ‘n bietjie langer uithou. God waarborg dit. Op dieselfde manier waarop jy in die donkerte in geroteer het, sal jy weer daaruit roteer. God werk die nagskof en Hy sal jou donkerte in lig verander as jy net aanhou om op Hom te vertrou.
Sommige betekenisvolle gebeurtenisse in die Bybel het in die nag plaasgevind. Byvoorbeeld, terwyl Adam geslaap het, het God geopereer en Eva geskape. Om middernag, terwyl die ander gevangenes geslaap het, het Paulus en Silas God gelofprys en het Hy hulle bevry. Toe Petrus in die binneste gedeelte van die tronk toegesluit was, het God om middernag ‘n engel gestuur om hom te bevry. Toe Jesus gekruisig is, is die aarde in duisternis gedompel, maar op Paasmôre het die lig aangekom – vir altyd.
Jy moet te wagte wees dat jy nagtelike ervarings sal hê. God se ‘donkerkamer’ is waar Hy jou in die beeld van Christus ontwikkel. Volharding is wat jou die getuigskrifte gee om in die daglig uit te stap, nadat jy die reg verdien het om daar te wees.
Hierdie soort geloof is hardnekkig, radikaal en meedoënloos. Wanneer dit in ‘n hoek vasgekeer word, staan dit sy man en verklaar: ‘Ek het my werk verloor, my verband is agterstallig, my simptome lyk nie te goed nie, maar ek glo God steeds.’ Dis die tipe geloof wat elke keer resultate kry!
Sielskos: 2 Kon 6:8-23; Matt 5:43-48; Luk 6:27-36