‘n Verhoudingsprobleem? Neem aksie!

2024-01-22
Lukas 12:48 NLV

Een skrywer merk op: “Dit het my die helfte van my lewe geneem om die groot krag van keuses en kanse te ontdek. Goeie verhoudings is God se geskenk aan jou; wat jy met dit doen is jou reaksie op Hom. Te dikwels drapeer ons ons passiwiteit, of gebrek aan moed, of verontagsaming van ons verantwoordelikheid in die verslete tapisserie van die noodlot. Ons weef verskonings en gee alibi’s aan ons skuldige harte, wat nie daarin geslaag het om omstandighede te verander nie. Ons leef in ontkenning dat dinge beter in ons verhoudings kon gewees het as ons net vroeër opgetree het. Die ergste daarvan is dat baie mense God dwaaslik aankla en Hom vir verhoudings wat hulle self kon verander het, aanspreeklik hou.

God se genade gee ons geleenthede, elke verhouding is ‘n geskenk wat uitgepak en geniet moet word. Ons moet elke kosbare oomblik as ‘n avontuur aangryp. As ons van die potensiaal van elke verhouding bewus is, sal ons harte deur die dringendheid om van elke ontmoeting die beste te maak, deurdring word. Jy het die geleentheid gehad om nie met haar te trou nie, of om daardie oproep te maak, of om die eerste te wees om verskoning te vra, of om jou hartsbegeerte te omhels. Die keuses is joune.

Jy moet dus elke dag sê: ‘Ek sal my kanse waag, my keuses maak, deur veranderinge gaan en my besluite neem.’ Wanneer die dag dan verby is, sal jy vir jouself sê: ‘Dit was my lewe en my verhoudings en ek is verantwoordelik vir albei.'” Jesus het gesê: ‘…Baie word verwag van hulle wat aan wie baie gegee is…’ Het jy ‘n verhoudingsprobleem? Neem aksie!

Sielskos: Dan 8-10; Matt 8:1-9; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22