‘n Vader se seën

2024-06-16
Hebreërs 11:20 NLV

Pa, hier is twee Bybelse bestanddele om jou kinders en kleinkinders mee te seën:

1) Die krag van gebed. Isak, ‘n boer, het vir sy seun gesê: ‘Mag God vir jou die dou van die hemel en die vrugbaarheid van die aarde gee sodat jy goeie oeste van graan en wyn sal hê’ (Genesis 27:28 NLV). Het jou kinders jou al ooit met God oor hulle hoor praat? Dalk het hulle jou al harde woorde soos: ‘Hoe kon jy so dom wees? Dink jy nooit vir jouself nie? Jy sal nooit iets in die lewe bereik nie!’ gehoor sê. Indien dit die geval is, vra vandag verskoning en vra hulle om jou te vergewe. Laat hulle hoor hoe jy God se rykste seën oor elkeen van hul lewens aanroep. ‘n Vader se gebed van seën oor sy gesin is ‘n kragtige ding – dit is lewensveranderend!

2) Die visie van ‘n wonderlike toekoms. Die Bybel sê: ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ (Spreuke 29:18 NLV). Skoolberaders sê vir ons dat baie van hul studente visie kortkom. Hoekom? Omdat hulle niks behalwe slegte ekonomiese toestande, werkloosheid en moeilike tye in hul vooruitsigte sien nie. Hulle het iemand nodig om in hulle en hulle toekoms te glo, om te glo dat hulle sukses kan behaal en gelukkige lewens kan lei, dat die beste nog vir hulle voorlê. Isak het nie vir sy seuns gewag om hulle eie visies vir die toekoms te kry nie. Hy het openlik vir hulle toekomstige suksesse en vir respek en guns by familie en die samelewing, gebid. Jou kinders het nie nodig dat jy hulle manipuleer nie; hulle het nodig dat jy hulle motiveer. Jy doen dit deur hulle te seën!

Sielskos: Matt 5:4; Jes 51:1-16; Ps 30; Job 5:8-11