‘n Sleutel tot beantwoorde gebede

2022-07-10
Jesaja 58:7 DB

Max Lucado skryf: ‘Ons geslag Christene is die rykste ooit. Ons is slim, goed opgevoed en ervare. Ons kan binne vier-en-twintig uur om die wêreld reis of binne ‘n millisekonde ‘n boodskap stuur. Ons het die mees gesofistikeerde navorsing en medisyne byderhand. Ons het volop hulpbronne. As dit gedeel sou word, sou ‘n skamele twee persent van die wêreld se graanoes genoeg wees om die probleme van hongersnood en wanvoeding oor die hele wêreld uit te wis. Daar is genoeg kos op die planeet om elke mens van 2500 kalorieë voedsel per dag te voorsien. As jou kleinkinders uitvind dat jy gedurende ‘n tyd geleef het toe 1,75 miljard mense arm was en 1 miljard honger gely het, hoe sal hulle jou reaksie daarop beoordeel?’

Nog belangriker, wat sal God sê? Toe die Israeliete gekla het dat God nie hulle gebede beantwoord nie, het Hy vir hulle gesê: ‘Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Gee blyplek aan hulle wat nêrens het om heen te gaan nie. Gee klere vir die mense wat jy kan sien niks het om aan te trek nie. Help jou familie as hulle hulp nodig het. Wanneer jy so maak, sal jy bevry word… Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom… Dan sal dit vir jou word soos lig wat die donker laat verdwyn… Die Here sal dan die hele tyd saam met jou wees. Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het. Hy sal jou krag gee…’ (verse 7-11 DB).

In plaas daarvan om dus op jou eie behoeftes te fokus, fokus eerder op ander mense se behoeftes. Dit is ‘n sleutel tot beantwoorde gebede.

Sielskos: Num 9:15-23; Eks 24:15; Matt 17:1-8