‘n Nuwe avontuur
2023-04-09Hebreërs 2:15 NLV
Toe Charles Lindbergh, die eerste persoon wat alleen oor die Atlantiese Oseaan gevlieg het, sterwend aan kanker was, het hy hierdie woorde neergeskryf om by sy begrafnisdiens voorgelees te word: ‘Ons vertrou die liggaam van Charles A. Lindbergh tot sy laaste rusplek toe; maar ons gee sy gees aan die Almagtige God oor, met die wete dat die dood maar ‘n nuwe avontuur is.’ Die dood is slegs ‘n nuwe avontuur, dus is daar geen rede om dit te vrees of te ignoreer nie. Jy kan dit as gevolg van Christus met vreugde en selfvertroue in die gesig staar. Sy opstanding waarborg joune.
Aristoteles was verkeerd; die dood is nie iets wat gevrees moet word nie. Die Grieke was verkeerd, die roeier Charon sal jou nie oor die Styx-rivier na die vergetelheid in ‘n sonlose wêreld van geeste vervoer nie.
As ‘n gelowige word jy nie begrawe nie, jy word geplant! ‘Dieselfde is die geval met die opstanding van die dooies… Ons liggame wat in die grond geplant word, is maar heel gewoon, maar hulle sal in glansende heerlikheid opgewek word. Hulle is maar baie broos wanneer hulle geplant word, maar hulle sal vol krag wees wanneer hulle opgewek word’ (1 Korintiërs 15:42-43 NLV).
Een dag toe die Heilige Franciscus van Assisi besig was om sy tuin te skoffel, het ‘n man hom gevra wat hy sou doen as hy skielik sou weet dat hy daardie dag teen sonsonder sou sterf. Hy het geantwoord: ‘Ek sou my tuin klaar skoffel.’ Hier was ‘n man wat gereed was om dood te gaan en sonder die vrees vir die dood, was hy gereed om elke oomblik uit die lewe te put. Dis hoe jy ook moet lewe!
Sielskos: 1 Kor 15; Luk 24:1-12