‘n Hart gevul met goedheid
2023-04-12Lukas 6:45 NLV
Waar kom goedheid vandaan en hoe kan jy dit in meer van jou daaglikse besluite en aksies kweek? Sommige mense dink dat goedheid ‘n kwessie van die kop is en dat die regte denke die regte lewe tot gevolg het. Vandag wek elke politikus die indruk dat onderwys die wondermiddel vir feitlik elke probleem in die samelewing is. Tog sal opvoeding van die kop, sonder dieselfde klem op integriteit van die hart, slegs slim duiweltjies voortbring. Indien opvoeding alleenlik die antwoord was, sou witboordjie misdade heel waarskynlik skerp gedaal het.
Ander dink weer dat goedheid ‘n kwessie van hande is. Hulle sê dat goedheid beteken dat jy mense goed behandel. Om goed te doen maak egter nie van iemand ‘n goeie persoon nie. Moordenaars wat in die tronk is mag dalk goed vir hul moeders wees, maar hulle is nie goeie individue nie.
Die waarheid is dat goedheid nie in jou gedagtes of jou hande te vinde is nie; dis weggesteek in jou hart. Jesus, die beste mens wat ooit gelewe het, het gesê: “‘n Goeie mens bring goeie dade voort uit ‘n goeie hart…” Goedheid is nie net ‘n kwessie van wat ons weet of wat ons doen nie; dis ‘n kwessie van wie ons is. Dit maak nie saak hoe lank jy lewe nie, maar hoe goed jy lewe.
Sir Francis Bacon het een keer gesê: ‘Van alle deugde en vaardighede van die verstand, is goedheid die belangrikste, omdat dit die karakter van God is; daarsonder is die mens ‘n besige, ondeunde, ellendige ding.’ Beweeg dus nader aan God in jou begeerte om goed te wees. Jy word immers soos die geselskap wat jy hou.
Sielskos: Lev 18-20; Luk 24:25-35; Ps 25:1-7; Spr 10:1