Moet nooit tou opgooi nie

2024-06-18
1 Korintiërs 15:58 NLV

Mislukking beteken nie dat jy nooit sukses sal behaal nie; dit beteken net dat dit dalk bietjie langer mag neem. John Wayne het ‘n wonderlike sêding in die rolprent The Train Robbers, gehad. Hy het gesê: ‘Jy gaan jou lewe daaraan bestee deur een keer meer as wat jy platgeslaan word, op te staan, so raak maar daaraan gewoond.’ Dis wat sukses is – om een keer meer as wat jy platgeslaan word, op te staan. Jy het geen idee hoe naby jy aan dit wat jy wil bereik mag wees nie. As jy egter tou opgooi, sal jy nooit weet nie – en jy waarborg dat jy nooit daar sal uitkom nie.

Die tydskrif Time het ‘n opname onder mense wat hulle werk verloor het, gedoen. Almal het verwag dat hulle moedeloos en ontmoedig sou wees, maar die studie het bevind dat hierdie mense uiters veerkragtig was. Hoekom? Omdat mense wat hulle werk verloor en nuwe werk gekry het, beter voorbereid was om teëspoed te hanteer as diegene wat jare vir dieselfde maatskappy gewerk het sonder om ooit werkloosheid teë te kom.

Wanneer jy mislukking ervaar het, is jy inderwaarheid in ‘n beter posisie om sukses te behaal, as mense wat nie het nie. Wanneer jy misluk en weer misluk – en aanhou opstaan en uit jou foute leer – bou jy karakter, krag, volharding, ervaring en wysheid. Mense wat hierdie kwaliteite ontwikkel is in staat om hul suksesse te onderhou, anders as diegene vir wie goeie dinge te vroeg en te maklik gekom het. Solank as wat jy nie tou opgooi nie, is jy in ‘n goeie posisie. Die woord vir jou vandag is dus: ‘…staan baie vas, onbeweeglik…’

Sielskos: Eseg 37:1-40:9; Luk 1:11-25; Ps 73:1-16; Spr 15:18-21